FB_IMG_1506881124051

In my middel dertigs, het ek ewe hans vir iemand vertel ek het genoeg in my kort leeftyd beleef, net doodgaan lê voor! Bwahaha. Ek dink die hemel het geskater vir my voor-op-die-wageit!

Daar is mense wat my arrogant of selfs hardgebak ervaar. Die ding is, ek het van die grootste traumas binne sewe jaar ervaar. Daaroor gaan ek nie derms uitryg nie.

Eers het ek gedink dis oor ek een voet voor die ander sit en doen wat gedoen moet word, omdat ek maar die mouoprol, praktiese tipe is, dat ek oorleef het. Watwou, dit het niks met my vermoëns te make gehad  nie, dit was pure genade. Dis my groot les in vreesloosheid.

Ek is nie bang vir al die geskuur en poleerdery wat mens beleef nie. Want sien – God se genade is 24/7 ewig en altyd daar. Onveranderlik in ons gisters, in ons vandag en reeds in ons mores! Daar is “moenie bang wees nie” vir al 365 dae van die jaar in die Bybel opgeteken. Daai genade is genoeg.

Maar ‘n mens hou nooit op leer nie. Jy leer en leer totdat jy, deur die lewe blink gepoleer, anderkant uitkom. Hopelik beter as toe jy begin het. Ag, hoe lekker ek praat myself nou moed in.

Kom wêreld!

Hehe. Ek gaan nou moet bieg: Natuurlik is daar goed wat my bangmaak.  Mos maar mens.

Ek is bang vir my reaksies. Bang hoe ek reageer, en dan die gevolge van my reaksie, want al probeer ek hoe hard, my emosies is baie jonk, iewers daar tussen agtien en een-en-twintig vasgehak. Dis harde werk, ek moet dikwels omdraai en askies sê. Ek moet baie vergifnis vir die Here vra, want ek kan blitsig en bitsig wees. My Achilles hiel. Ek sukkel om tot tien te tel….

O ja, en slange, ek is grilbang vir slange. Daai koue kil oge en gesplete tong. Ek is bang vir regte slange en slangmense.

Dis dit.

Oor en uit.

NS.

Ek loop die vanoggend raak

“Courage is a love affair with the Unknown.” – Osho

Kunswerk: Odilon Redon

__________________________________________________________________________________________

Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die volgende InLinkz skakel:

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22). Laasgenoemde blogpos is opdateer op 2017-09-05.