dorothy

Wanneer verandering plaasvind, hetsy in die wêreld om jou of aan jou binnekant – jou emosies of uitkyk,  ervaar mens maar ‘n gevoel van magteloosheid. Ek dink dis soos Dorothy in die Wizard of Oz gevoel het toe die tornado haar in Kansas opgesuig het en in Oz uitgespoeg het. Daar waar jouself skielik in ‘n woeste vorteks bevind. Jy weet deur hierdie chaos moet jy kom, oorlewing ter wille. So, na my mening is baie Suid-Afrikaners in ‘n skaamkwaad-woede  of vingerwysende-dis-jou-skuld vorteks vasgevang. Ons beter anderkant probeer uitkom.

Ons land se mense is oral moerig, kwaad. Dis rerig asof die ketel gaan droogkook en uitbrand. Soveel wreedheid en moordlus. Soveel korrupsie en anderpad-kykery. Soveel moddergooiery. Soveel dubbelstandaarde en argumente. Die pers radiostasie is op die oomblik die kersie op die koek.

Ja,Tumi het tekere gegaan. Maar wraggies hoe sy in die middel van wie verteenwoordig Afrikaanses nou – die sanger of die uitgewekene in Nederland – beland het, gaan my verstand te bowe.

Ek sweer ek het in ‘n paralelle wêreld na ‘n ander radiouitsending geluister.Dis hartseer dat ons so gou op sosiale media reageer en vure aanstook.

Die analogie wat Tumi  gebruik het, of wat ek in die ander radio-uitsending gehoor het, was dat Apartheid (nie witmense nie) se gevolge is soos ‘n boelie wat uitgehaal word omdat hy iemand se fiets gevat het. In plek van straf vir die boelie, word die benadeelde kind aangesê om die fiets met die boelie te deel. Dis wat ek gehoor het. Ek dink dis nogal ‘n goeie analogie.

Wat ek ook gehoor het is dat Tumi dink mense in hulle nou persoonlike perspektiewe, baie soos die rondloperbok is wat op die ou einde aan ‘n paal vasgemaak word om sy gewoonte te breek. Die bok loop daarna al in die rondte en net so ver as wat die riem hom toelaat. Hy raak so gewoond aan sy sirkeltjie, dat wanneer die riem verwyder word, sal die bok aanhou om in die aangeleerde paadjie te beweeg.

Ek is Afrikaans, wit, middeljarig. Ek hét uit Apartheid gebaat. Kon middernag in die strate rondjol as student, is ‘n goeie opvoeding gegee, kon gaan studeer, kon doen wat ek wou. Nes duisende ander soos ek.

Ek hou nie van Steve Hofmeyr – die middeljarige weergawe nie. Hy is vir my opsweperig Dis maar ek.  Ek hou ook nie partikulier van Martin Bester (te nasaal) of Rian van Heerden nie (probeer te hard).  Ek hou van Tumi as sy nie so skel lag nie. Ek mis vir Diane Broodryk – sy het styl gehad. Ek hou baie van Amore Bekker en Marieta Kruger – hulle bedryf mooi Afrikaans vir my. Maar dis ek, ek verwag niemand om my opinie te deel nie. So blaas maar so 10 bar af toe!

Ek hou nie van die Prez en klomp politici van verskeie oortuigings nie. Ek hou ook nie van Orania-denkers nie. Dis my keuses en voorkeure – al die laaik en ek-laaik-nie. Maar dit gee my nie die reg om liederlike dinge te skryf of ander mense af te kraak en in die massa soos ‘n gogga te kere te gaan nie. My opinie word reeds hier nou te veel na my smaak gelig.

Hier is die ding – mense is erg opgesweep.  Hier in Polokwane sou Martin Bester van die pers radiostasie kom optree namens ‘n plaaslike diereversorging-organisasie.  Onthou sulke besprekings word byna ses maande voor ‘n optrede bespreek.  Hoe sal die hondeliefhebbers nou kon raai wat op 12 September – twee weke voor hulle konsert sou gebeur. Die moerigheid oor wat mense dink hulle gehoor het, het nou veroorsaak dat die konsert gekanselleer is, met vieslike kommentare op die arme welsynsgroep se Vuisboekblad.

Nou wonder ek so in my enigheid – bereik hulle enigiets om die konsert te boikot? Vra hulle, hulle kaartjiegeld terug van die hondebeskermers? Gaan hulle vrywillig (die gesiglose hulle wat so tekere gaan) hulle R100 kaartjies in skenk om die brakke te help. Wed jou NEE.

Lekker in ons moerigheid, word ons presies soos diegene wie vere voel vir reg en geregtigheid in ons land. Die hulle is ons, julle! Tyd om te besin oor uitsprake, te luister met kalm en oop gemoedere en mekaar die hand te reik en saam deur die storm kom!

Wens ek kon soos Dorothy my hakkies klik en alles kom reg.

Net so.

NS. Lees hier oor woede.

https://aeon.co/essays/there-s-no-emotion-we-ought-to-think-harder-about-than-anger