Skorsie

BYSKRIF:
Bantingland is tot in sy fondasies geruk deur die grudood van geliefde sanger, Koos Komkommer. Ons fotograaf, Piet Patat, het hierdie nie-vir-sensitiewe-kykers-foto op die toneel geneem. Majoor  Martin Murgpampoen het dit beskryf as die grusaamste moordtoneel in sy luisterryke loopbaan. “Dat Koos Komkommer uitmekaar gerasper aan sy einde moes kom. So jong komkommer so gou weg, met soveel om nog te bied,” het hy ontsteld gesê.

 

Die storie agter die foto:

Koos Komkommer se omkom

‘n Bloedstollende gil breek die oggendstilte in Volroommelkstraat. Gou is almal uit hulle huise om ondersoek in te stel. Bertie Beet sien vir Ursula Ui voor nommer 11. Sy kan nie ophou gil nie. Bertie gryp haar vas. “Ursula, wat makeer?”

“Koos…Koos…ag dis aaklig!” Ursula beduie na die huis. “In die kombuis, Koos is aan flarde…” snik sy.

Bertie pluk sy selfoon uit om die polisie en nooddienste te skakel.

*********

“Majoor, kom gou,” roep Sersant Sannie Sampioen na die beroemde Bantingland speurder Majoor Martin Murgpampoen.

Hulle is na ‘n moordtoneel ontbied.  Die noodoproep het vroegdag van beroemde sanger, Koos Komkommer, se paleisagtige, neo-klassieke boerpampoenwoning gekom. Koos se minnares, Ursula Ui en ook sy persoonlike assistent, Annie Aspersie, het na bewering op die grutoneel afgekom.

Majoor Martin Murgpampoen stap die kombuis binne. Daar op die werksblad lê Koos Komkommer in duisend flardes. Hy ril. Wat ‘n wrede dood. Lewend gerasper.

Koos het dan net verlede week sy nuwe album “Tamatie en Komkommer Slaai” bekendgestel. Wat ‘n verlies vir Bantingland.

Annie sit snikkend eenkant. Majoor vra dat sy eerder na ‘n ander vertrek geneem word. Toe sy opstaan, merk hy ‘n flenterjie Koos aan haar regop opdoenhare.

“Annie, hoe kry jy ‘n stukkie van Koos in jou haredos,” vra hy kwaai.

Annie struikel teen die deurkosyn van skrik. Tot almal se verbasing begin sy histeries te kere te gaan.

“Hy het my nooit erkenning vir my harde werk gegee nie. Nie ‘n asseblief of dankie nie, niks. Die finale strooi was die liefdesverklaring op sy nuwe album se omslag.  ‘Ursula Ui – my muse en liefde van my lewe.’ Pfft, wat van my, wat altyd daar was vir hom? Iets het in my gebreek, dit was die rasper of die asynbad.  Ek kon nie meer nie…”

“Wat is hierdie op jou kraag Annie,” vra Murgpampoen en vryf sowaar ‘n broodkrummel raak!

“Ek het ‘n medepligtige gehad,” snou sy Majoor Murgpampoen toe.

“Ek het gedink jy kon dit nie alleen vermag nie. Annie, Willie Witbrood is dan uit Bantingland verban, waar het jy met hom kontak gehad?”

Annie lag hard. “Jy weet hy sal enigiets vir botter doen! Hy het die daad gepleeg.”

Majoor Murgpampoen vryf oor sy knobbelrige geel ken.  “Waar is Witbrood nou?”

“Hy het in die koi-dam geval oppad uit. Hy is viskos,” antwoord Annie en wys na die dam in die tuin. Sowaar, daar dryf krummels.

“Annie Aspersie, jy word in hegtenis geneem vir die moord op Koos Komkommer. Sersant, boei haar en vat haar weg.”

____________________________________________________________________________________________

 

Copy & Paste die volgende paragraaf onderaan jou blog:

Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die volgende InLinkz skakel:

 

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22). Laasgenoemde blogpos is opdateer op 2017-09-05.