21314571_1106631052800857_7383305013899024090_n

Ek kyk die Boekklub. Mal oor die reeks. Die toneel onlangs waar twee jongmense koffie drink en hulle seer met mekaar deel, laat Gemoedsbekak se laai in die onthouboks oopvlieg.

Die gemoedsbekakking het my lewe deur so wegkruip, wegkruip, net so waar ek nie mooi kon sien nie, agter my aangesleep en nader gekruip. “Sy is ‘n boekwurm, sy is bederf, sy is….” Soveel maniere om my te beskryf.  Niemand het gesien hoe skeiding van van my ouers en koshuis toe, stadig diep binne my die bekruiper help om sy lê kom kry nie. Ek ook nie. Ek het maar so Hushpuppy hanghond gesig, en is maar ernstig van geaardheid, so die swaar in my borskas het ek metterwyl gewoond geraak.

Met my pa se skielike dood, ons drie vroumense se oppak om weg te trek terug na ons wortels, my weggaan uit Ouma se huis Tukkies toe,  my ma se tweede huwelik, my afstudeer aan my graad, ma se selfmoord, my Sus nog op skool, my eerste huwelik, my wegtrek van my familie, die daaropvolgende egkskeiding – die vorteks waarin ek  my bevind het, was kragtig en alles in sewe jaar geprop. Tyd vir jammerkry en bedruk voel was daar nie. Oorlewing. Een voet voor die ander. Meganies deur elke dag. Konstant in veg modus, vlug kan jy nie.

Saam in die seer gat wat my ouers se dood gelos het, wikkel ou Gemoedsbekak sy donker lyf nog lekkerder in die middel van my wese in. Knus maak hy en Seer elke hoekie van my borskas vol. Ek voel nou nog daardie onrus van hulle skommelry in my binnekant. Ek leer swaar sug, jy weet, daai sug wat as hy op die grond val, sal gras nooit weer daar groei nie. So erg.

Ek skrik my boeglam toe Rots my lewe instap. Ek moes meestal maar self sorg, en hier kom hy, en is lief vir my en my donker binnekant. Ek en Gemoedsbekak skrik ons in Denmar in. Daar, met terapie en Prozac, leer ek dat jy kan oorleef as jy wil. Gemoedsbekak mag nie lêplek in my binneste kry nie. Ek kry hom weer so half sluipend agter my, maar sy asem bly blaas agter in my nek, net so waar ek hom nie kan bykom nie.

Ek ervaar egter ‘n ander monster. Afstomping. Die Prozac het van my ‘n plastiekmens gemaak. Niks het my gepla nie. Daar was nie hartseer of vreugde nie. Ek het gepraat soos ‘n mens, gelyk soos ‘n mens, maar daar binne was niks. As ek vandag terugkyk, weet ek nie hoe my man en kind met my saamgeleef het nie.

In werk het ek ongelooflik presteer. My arme liefies moes maar oorleef en saamleef. Dit was asof iets my permanent gedryf het. Ek moes die beste wees, moes alles in oortreffende trap regkry. In die middel van die gehol na niks, besluit ek om die Prozac te los. Sjoe, wat ‘n fout. Ek  beland in die hospitaal vir drie dae. Ek word aan die slaap gehou. Psigiater toe, lank preek oor hoe mens nie net goed los nie. Die tweede vorteks suig vir my tot in my murg uit.

Ek bedank my werk, en gaan sit by die huis. Nie dat ons dit kan bekostig nie. Stadig maar seker lap ek my hart en gemoed reg. Ek probeer wel een oggend onder die stort staan met my mond wawyd oop, miskien versuip ek so. Ja, wel. Jy mag maar lag soos ons almal vir Griet gelag het toe sy haar kop in die oond druk en die kokkerot daar kry. Dit was so ‘n oomblik.

In al hierdie chaos was daar vir my konstantes. My gesin en my kinderlike geloof. Hierdie is nie hoe ek veronderstel was om te wees nie. Dis nie wat my lewe moet wees nie. Ek het medikasie as ‘n hulpmiddel gesien, en besef daar moet binne my ‘n rede vir leef wees. Daar is binnewerk wat net ek kon doen. Ek het besef uit die gat kom ek slegs uit as ek myself aan my eie skoenveters ophys -moeilik, maar met ‘n helse lot wilskrag, sal jy kan!

En so, moedig veg ek voort. Bereik weer sukses. My liefies oorleef met ‘n reuse liefhê geduld. Tot my middeljare en my dierbare skoonmoeder se heengaan die derde vorteks ontketen.

Ek gooi alles wat ek het in my ma se versorging. Ry haar op en af, toe sy bitterlik siek word, en die koors haar ylend en in die war het, belowe ek vir haar, nes Rut vir Noami belowe het: “Waar jy gaan, sal ek saam gaan”.  My arme gesin en die skonies – broers en susters – kry nie asemhaalkans nie. Ek bestuur ma se probleme en siekte soos ‘n masjien. En toe sy dood is, sit ek met niks, en ‘n eksistensiële krisis.

Om dinge verder te kompliseer oorleef ons ‘n bye aanval net-net. Ek kom agter dat ek weer in ‘n konstante veg- of vlug staat verkeer. My maag is hol, my kopvel tintel. Ek is moerig verby. My gesin paai, en troos en raas.

Ek land befoeterd-betraand by die psigiater. Sy is moedeloos en bestel ‘n toets – ja, daai een wat ek julle al van vertel het wat by ongevalle toegedien moet word ingeval die kortisol jou ‘n hartaanval gee. Ek het daar die lekkerste slaap geslaap en die storm het met die hulp van Serdep oor tyd bedaar. Maar weer, daai selfwerk, alleen, net jy en God, dis daai werk wat die storms werklik laat bedaar.

Vandag kyk ek terug en my bek hang oop. Daar lê die antwoord – binnewerk, sielewerk. Die besef dat jy in die vorteks geplaas word om verder te groei. Jy word geboetseer, geslyp, geskaaf, geskuur. Tot een oggend waar jy stil wag vir die son wat saggies oor die kim kom loer, en die hemel oesterskulp ligpienk en oranje en blou kom inkleur, en God jou so binne in jou hart die koesterendste drukkie gee. Die warmte van leef en dankbaar en vol ootmoed.

Lewensreise is vol opdraand en afdraand. Sommiges kan jy nie veel beplanning doen nie. Hulle gebeur, en jy moet gaan. Die lewe is so. Ons moet maar stap. In vertroue en geloof.

Glo jy is uniek, hier om ‘n rede. Om ‘n verskil te maak en ook te leer van jouself. Dat jou siel saak maak tot in ewigheid.  En as jy nou ‘n pilletjie nodig het, of terapie, dit maak nie saak nie. Dieselfde Skepper wat jou bedraad het, en jou hare op jou kop ken, Hy het ook daai slim dokter of medisynemaker net so lief. Dink so daaraan en vat al die hulp wat jy kan kry.

Onthou ook net dis jou gemoedsbekak – jy en hy moet ook leer saamleef.  As julle so saam loop hou tog styf aan God se Vaderhand vas. Hy sal jou teen daai skoenveter uit die gat help en Gemoedsbekak op sy plek sit. Hy  is goed so.