Om te gee is beter as ontvang.
Die vrae maal in my kop rond:
Die gewer se motiewe is altyd onder verdenking, of is dit?
Is die ontvanger so bly oor die ontvang as wat die gewer oor gee is?
As jy gee, wil jy noodwendig iets in ruil terug hê?
Gee jy in opregtheid, omdat dit lekker/goed/reg/mooi is? Of gee jy om erkenning te kry.
Hier lê die knoop. As jy gee om erkenning te kry, is jou gee maar vreeslik soos die Fariseër wat biddend op die straathoek staan sodat almal kan sien watter goeie outjie hy dan nou is.
Ek hou van gee. Ek hou van die beginsel: die linkerhand weet nie wat die regterhand doen nie. My gee word nie aan die groot klok gehang nie. My gee is baie spontaan. Maar ek moet nou vir die eier-lê relaas vertel.
By die supermark, oorkant die parkering sit vyf manne kop onderstebo teen die muur. Hulle is nie vanoggend op ‘n bakkie gelaai vir dagloonwerk nie. Ek doen my huishouding se weekaankope. Laai vyf brode, vyf blikkies vis, vyf melke en ‘n handvol piesangs ook in die mandjie. Dis minder as 200 rand – maar dit maak vyf mae vol. Vyf van hulle en ‘n kans om vir swaarkry in sy oë te kyk en te sê: “Mag God jou seën.” Om in daardie oomblik ‘n mens raak te sien. Jy verander nie hulle lewens nie, maar jy wys darem omgee in die ou harde wêreld. Die Here is in daardie oomblikke.
Of die karwag by die tandarts met die droë hoes en verslete baadjie en stukkende skoene. Hy is al lank daar, maar lyk al slegter en slegter. Rots se ou tekkies, wolsokkies en braaivleisbaadjie en warm serp en pet wat in die kas lê en vrot, verander my karwag se winterdae. Hy het ‘n kans op oorlewing. “Mag God jou seën,” kom terug na my. Ons albei se oë vol trane. Want God is daar saam met ons.
Aardse goed is lekker en gerieflik, maar ek het nog altyd die denke gehuldig dat niks rêrig ons s’n is nie. Alles op die aarde behoort aan God, ons Skepper. Ek dink ons word penningmeester gemaak van dit wat God vir ons bedoel. Bestuurders van Sy goed, Sy geld. Dis nou maar ekke. Daar word van ons verwag om goed so te bestuur dat ons na ons geliefdes kan kyk, en ook die weduwees en wese en die armes en die siekes.
So gee, gee, gee…dis goed so. Moet niks in ruil verwag of wil hê nie. Daar lê die grootste beloning. Gee met jou hele menswees, hart en siel. Gee met ‘n glimlag, met liefde en medemenslikheid, met omgee. Dis wat jy daaruit kry, en die kleinbekeer lekker warm in jou binneste.
Nou, die taai kant van die toffie is ontvang. Die ou lewe maak mens maar sku as jy soveel keer die mooi woorde, die goeie bedoelinge en die “ek belowe” geglo het, en dan tot jou spyt agterkom jy het ‘n belofte of kompliment ontvang en aangeneem, maar dit eindelik net mangelliefde was. Jy het gekry omdat daar wederkerige gee van jou terug verwag word. Dis ‘n ontnugtering, en ek dink dis hoekom baie van ons maar liefs die rug keer op ontvang…dis dikwels ‘n bitter pil om te sluk.
So ek is maar meer aan gee se kant. Ontvang van elke Janrap en sy maat het te veel kere ‘n eie-agenda wat met seerkry gepaardgaan.
Ek ontvang met oop arms my Rots en Bab se liefhê, en Koda brak se oopbek uitbundige liefde, en die Yorkies se “kyk ek het ‘n muis vir jou gevang”-liefde, as wat ek vir daai “ek is so lief vir jou, jy is so oulik, sal jy vir my…”-ontvang val.
Noem my afsydig, ek noem dit duif-versigtig, reeds voorheen beleef en mooi geleer. Daar is wysgeërs wat sê gee en ontvang is een en dieselfde. So wanneer ek gee, ontvang ek ook. Dis seker waar, maar vir daai ontvang met bymotiewe, dink ek moet mens maar pasop.
Ek stem nogal saam met Ram Das:
Kekkel, kekkel, die eier is gelê.
NS.
~Wash your spirit clean~
Give away the things you don’t need Let it all go and you’ll soon see And you’ll wash your spirit clean Wash your spirit clean Go and pray upon a mountain Go and pray beside the ocean And you’ll wash your spirit clean Wash Your spirit clean Be grateful for the struggle Be thankful for the lessons And you’ll wash your spirit clean Wash your spirit clean Give away the things you don’t need Let it all go and you’ll soon see And you’ll wash your spirit clean.
– Walela
Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, kliek op die volgende InLinkz skakel:
Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke.
Jy het jou gedagtes en gevoelens so mooi hier saamgevat, diep geskryf en aan my hartsnare geraak. Omdat ek mos maar sukkel met die ontvang deel, dink ek ek gaan by elkeen wat oor hierdie onderwerp skryf, iets leer.
LikeLiked by 1 person
Ek hou hiervan, jy het die gee so goed beskryf. Ek het nie besef dat mense so sukkel om te ontvang nie.
LikeLiked by 1 person
Sjoe, jy kan darem ‘n ding so lekker uiteensit. Dit is nou sommer ‘n lekker bydrae om mee af te skop en die grys stof aan die dink te kry oor hierdie netelige saak. Ek moet nou net eers gou een ding vra: dis die tweede keer wat ek sien jy gebruik die uitdrukking “mangelliefde” (my kop haak nog vas by die idiome) en ek ken dit glad nie hoewel ek darem die betekenis uit die konteks kan aflei. Vertel asseblief wat die oorsprong is?
LikeLike
Dis ‘n eieskepping. Ervaring met mense wat so vlak omgee, dit kom nie verder as hulle uit hulle mangels nie, teenoor met jou alles omgee. Dit lyk of hulle omgee, tot betrokkenheid van die bloed en sweet soort nodig is. Die Engelse “platitude”, gemeenplaas, het betrekking.
LikeLiked by 1 person
Dis ‘n heerlike woord. Ek gaan dit met mening gebruik in die toekoms. 😀
LikeLiked by 1 person
😄
LikeLike
Jy het ook trane in my oë gesit.
LikeLiked by 1 person
Dit is nou pragtig gestel. Baie dankie hiervoor. Daardie “O jy is so pragtig ens en dan maar sal jy” breek die heuningsmeer woorde geheel en al af.
LikeLiked by 1 person