My pa-hulle ontwortel ons aan die einde van 1974, my standerd agt jaar. My sus en ek bly op daardie stadium te lekker by Ouma Stomp en Oupa Faan en word bederf uit ons sokkies uit.
Die aankondiging dat ons Kokstad toe verhuis sodat my pa die saagmeul-bestuurder by Singisi Sawmills in die destydse Transkei kan word, is met snot en trane begroet. Wie hou nou van verandering?
Ek het toe reeds vakkeuses gemaak – Afrikaans, Engels (albei eerstetaal vlak), Duits (standaardgraad), Aardrykskunde, Geskiedenis en Biologie (al drie hoërgraad). So arriveer ek die eerste dag by Hoërskool Grenswag, Kokstad. Dis eintlik ‘n hoër- en laerskool. Daar is 275 kinders in totaal.
Boekhou is ‘n verpligte vak in die Kaapse skole. Die skoolhoof, Meneer Bouwer bulder: “Duits! As jy Duits wil neem, moet jy maar pouses na die Roomse Kloosterskool met jou fiets trap. Hier word nie Duits aangebied nie!”
Misrabel is al hoe ek my tienergemoed onthou. Sommer die plek en my pa gepes. Ek moes, nodeloos om te sê, Standerd 7 en 8 boekhou binne drie weke deurwerk, en tred hou met die standerd nege sillabus. Debiet, krediet, balansstaat. Ek het deurgeskuur. Niks daarvan gehou nie. Die onnie moes maar saam met my tande kners.
Maar o, lekkerte! Die Engelse klas. Mrs Iris M. St John Landmark. Sy is middeljarig, blonde Marilyn Monroe haardos, bloedrooi lippe en lang goedversorgde naels in dieselfde skakering. Blou stilleto hofskoene en ‘n sonbril waarvan die raam by die skoenkleur pas. Og, en sy ruik lekker en sy lag uit haar maag. Sy het Ingels ‘n uiterse plesier gemaak. Self Wimpie en Varkie het “how do you do – I do my best” – uitgehaal op hulle gebroke manier. Nooit, ooit is iemand verkleineer omdat die woorde skeef en krom uitgekom het nie.
Ag, en as Mevrou die gang afswaai, hoe die Calvinistiese stywenekkies geruk het…hehe! Hoera vir jouself wees, het ek altyd haar in my anderste gemoed toegejuig.
Ons is verbied om met ons matriekafskeid te dans. Mev. Landmark het ons kort na die geleentheid na haar huis genooi, ons ouers en skoolhoof is vertel dat dit ‘n speletjiesaand is. Ons het nie vingerbakatel gespeel nie. O, nee. Ons het biljart gespeel, en poker. En ons het sjampanje gekry om ons nuwe toekoms te vier. Sy het musiek aangesit en ons kon skoffel, en twist en later darem so een keer close-dans. Sy het ons soos jong grootmense behandel.
Elkeen ‘n geskenk gekry. My geskenk was ‘n versamelboek met vier Nevil Shute boeke, waaronder “A town like Alice.” Sy het as prys vir my goeie Ingels reeds vroeër vir my Somerset Maugham se versameling kortverhale gegee. Ek was in die wolke.
Haar afskeidsboodskap aan ons was ook besonders: “Fear is not a word. It is an acronym for:
False
Evidence
Appearing
Real.”
So, vir Mrs Iris M St John Landmark wat via Kenya “very colonial,” in my lewe ingeswaai gekom het, is ek ewig dankbaar. Ek skrik, maar bly nie lank bang nie. Hoe kan jy nou bang wees vir goed wat meeste van die tyd nie waar blyk te wees nie!
Danksy haar, hou ek van my aweregse self, het ek my eie styl en ook my eie stem. Nou besef ek waarom Karen Blixen se Out of Africa by my resoneer, en ander groot epiese stories – Mrs Iris M St John Landmark het lewensgroot haar stempel afgedruk, en dit het nooit vervaag nie!
Thank you Ma’am. Jy en styl-ikoon Iris Apfel, val nie ver van die uniekwees boom nie!
“There are no rules or regulations. “It’s instinct and gut feeling. I don’t do these things intellectually; if you do, they’re always very stiff. I don’t have rules because I’d only break them. When I used to wear things that were a bit offbeat, people used to always say, ‘Oh, my goodness! Don’t you worry about what people will think?’ and I would say, ‘No, I don’t care at all.’ That’s not my problem. I dress for myself and I hope other people will like it, but if they don’t, it’s their problem, not mine.” – Iris Apfel
Ek kan Mrs Iris M St John Landmark hoor lag, uit haar maag.
Ek het ‘n paar van daai onnies gehad wat regtig ‘n impak op my lewe daar in die klein Wes-Transvaalse dorpie gemaak het. Dankie vir hierdie mooi onthou
LikeLiked by 1 person
Sy was werklik ‘n Landmark in jou lewe! Sulke onderwysers is goud werd. False Evidence Appearing Real – dit klink soos iets wat ek as ‘n lewensmotto kan gebruik.
LikeLiked by 1 person
Jy is lief vir die tale. 😁
LikeLiked by 1 person
Ek speak en droom albei wat in my brein oor is deliciously 😉
LikeLiked by 1 person