My matriek registeronderwyser was ook ons Afrikaanse onnie. Meneer Potgieter, ‘n oujongkêrel, fyn van maniere en baie kwaai oor sedes en norme.
Ons is aangemoedig om properse Afrikaans te bedryf. Jy het foute se regstellings 100 keer uitgeskryf. Daar was niks erger as jy ‘n woord verkeerd aksuenteer en hy die korrekte uitspraak herhaal, en herhaal en herhaal en die klas giggel te lekker. Dit het met my en die gesel waarmee Jesus geslaan is gebeur. Ek het dit uitgesprek ge-sel, soos metgesel. Eish!
Maar dankie aan Meneer Potgieter vir sy strengwees en ook sy opregte passie vir Afrikaans. Hy het ons opgewonde gemaak oor idiome en spreekwoorde. Hy het self ‘n nuwe woord geskep – en dis in die woordeboek opgeneem:
Vlegselvryer – Ou bok wat na jong blare vry. ‘n Egte Afrikaanse woord vir “cradlesnatcher.” Baie beter as ‘n wiegdief, dink jy nie? Wiegdief voel so effe af, as jy my vra.
Daar, dis my Afrikaanse onnie van 1975 wat daai een vir ons gemaak het! Ek onthou die Maandag toe die skoolhoof hom geluk gewens het, soos gister. Hoe stout ons gegiggel het dat as die oujongkêrel-onnie vir ‘n jong vrou gaan loer, hy self ‘n vlegselvryer sal wees!
Dis veertig jaar gelede, die dogters vlegsel nie meer nie, en vry, nou ja…wat sal ons nou sê om vandag se poplappe en suikerpappies te beskryf? Ek hoor in ons Afrika-gemeenskappe word van ‘n beskermer of behoeder gepraat. Meer soos vergoeder van dienste verskaf, as jy my vra.
Maar wag, terug by onthou. Ons klomp was maar woelig. Ons was net tien matrieks. So ons onderwysers het elkeen van ons goed geken. Wegkruipplek was daar nie. Groot vissies in ‘n klein dammetjie. Dis ons gewees. Lekker wintie. Min het ons geweet ons is nog nie in die groot see van die lewe nie, maar wel net in ‘n ou standhoudende getypoeletjie! Ek kan onthou hoe asemsnakkend groot alles later op Tuks se kampus vir my was. Die biblioteek, die klasse, alles. Maar hoe goed ons klein groepie voorberei is om baie werk te kan doen. As jy vakke op hoërgraad geneem het, moes jy dikwels self-studie doen, want jy was die enigste een in ‘n spesifieke vak.
Terug by onse onnie. Ons was stout, en het eenkeer hom so ontstel dat hy vir ons vertel het hy “distansieer hom van ons, sal nie meer ons register-onderwyser wees nie, en nog minder ons matriekafskeid bywoon.” Net fietas* doen wat ons gedoen het. Nou wat sal julle wonder, het ons gedoen wat die woord en verwerping waardig was?
Ons is in die middel van ons Engelse literatuurklas uit ons klas gelok en in ‘n ander klas fisies toegesluit, sodat die matriekafskeid versierings ongesiens by ons verby gedra kon word. Die voorgeskrewe boek het eers in die tweede kwartaal aangekom het, en ons was erg onder druk om klaar gelees en verstaan te kry voor ons eindeksamen. Ons was omgekrap, die tien van ons. Voor ons ons kon keer is die tasse in die standerd nege klas waar ons gevangene gehou is, se lessenaars omgekeer, donkiebrekfis hoede by die vensters uitgeslinger. Die groot moeilikheid het gekom toe mini-Marietjie die naelloper, die gekleurde bordkryt met saagsels en al in al die tasse begin uitkeer het. Dit was ‘n brug te ver. Die moeilikheid groot…en ons is fietas genoem.
Lanklaas die woord gehoor. Weet net ons was baie omgekrap, want ons het darem ore gewas en tande geborsel en skoene gedra. Fietas, pfft!
Ons het maar voor die hele skool (al 275 van Graad een tot Matriek ) verskoning gevra vir ons laakbare gedrag, en Meneer Potgieter het darem so tien bar afgeblaas en op die ou einde ons afskeid bygewoon. Hy was nie ‘n vlegselvryer daardie aand nie. Arme man moes saam met my nuut-geweduweede moeder aan tafel sit. Dit het heel ander gesprekke tot gevolg gehad. Gelukkig vir my het ons daardie Desember weggetrek en ons het nie weer met die man kontak gehad het nie.
*Vandag besef min dat fietas te make het met Vrededorp, Triomf en plekke waar armes destyds krepeer het. ‘n Fieta was vuil, agterlik. Gaan Google gerus, daar is steeds agterlikheid, maar daar is byvoorbeeld geen grondeise hier afgehandel nie – daar is meer eise as wat daar grond is, aldus Wikepedia. Te veel armes van te veel kulture se swaar spoor loop hier.
_________________________________________________________________________________________
Lê jou eier so:
“Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, kliek op die volgende InLinkz skakel:
Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke.
Nuwe onderwerpe word aangekondig elke Donderdag om 12:00 en sluit outomaties na een week.”
Baie, baie dankie vir die deelname. Jy was sommer vinnig uit die blokke en het eerste geland op InLinkz. Het jy gaan kyk hoe lyk hulle bladsy-uitleg waar ons gesiggies nou pryk en wat dink jy daarvan? Vlegselvryer. Nou daarvan het ek nog nooit gehoor nie, maar dis beslis ‘n woord wat die woordeboek waardig is. Jip en die vlegsels van destyds kan dalk ook net ‘n Lê-Jou-Eier onderwerp word. Ek wonder of onderwysers aldag besef wat ‘n geweldige impak hulle op leerlinge het. My Afrikaanse onderwyser was tops en hy het ‘n liefde vir lees by my gekweek wat my nog steeds bybly. My Duitse onderwyser het my gereeld aan my vlegsel gepluk – ja, ek het ook vlegsels gehad maar ek kan tot vandag toe nog eenvoudige Duitse boeke lees ☺ Dankie weer eens.
LikeLiked by 1 person
My grootste invloed was my Ingelse juffrou. Ek sal apart oor haar blog. Dankie vir hierdie eierlêplek.
LikeLiked by 1 person
Kom kuier gereeld
LikeLiked by 1 person
Aaa dis nou n goeie gemaakte uitdrukking wat mnr Potgieter gemaak het. Fietas was beslis nie die beste ouens nie. Vandag is daar ander name vir sulke ouens maar Fietas sê so lekker op die tong. Ek was ook in n skool waar daar min kinders in die klas was. Dis nie te lekker om so deur almal geken te word nie. Tog het ons heerlike poetse gebak!
LikeLiked by 1 person
Dit was nou lekkerlees!
LikeLiked by 1 person
Hierdie hey my laat dink aan my skooldae – ek was ‘n doring in die vlees vir menige onderwyser (en omgekeerd natuurlik). Ek erken die die woord fietas vak maagdelik op my oor – jy het my taalhorisonne uitgebrei. Ek het op die oomlike 2 dogters op hoërskool en vlegsels word weer gedoen, maar nie die losstaande velgsels nie, goed soos: “french plait” en “reverse french plait”. Lekker gelees
LikeLiked by 1 person