Image may contain: text

Ons het vanoggend een van daardie oproepe ontvang. Voor jy terug groet wéét jy – hierdie is slegte nuus. ‘n Onverskillige u-draaier het ons Ouboet krities in die hospitaal op ventilators. Hy niemand niks gemaak nie. Nou veg hy vir sy lewe, en sy vrou en kinders en familie is stukkend van kommer en seer.

Verder weet ek van werkloses, afbetaaldes, seergemaaktes. Die bos is donker en die bome hang en die vlinders se mooi vlerke is af. Die wind van seer en ontsteltenis loei.

Is ek bang? So so bietjie.

Is ek seer? Ja.

Is ek moedeloos? Ja, maar nie moedverlore nie.

Die storm gaan wyk. Die lewe gaan vir sommige van ons vreeslik verander.

Maar klomp dinge weet ek: God het nie die u-draai gemaak nie. God het nie die kontrakvoorwaardes verander nie. Nee – al daai goed is mens-keuses. Een mens wat ‘n besluit neem en klomp ander se lewens omkeer.

Ons God is by ons in elke storm en omstandigheid. Hy het ons oneindig lief en werk oral, altyd tot ons beswil.

‘n Bybeloordenking vanoggend van Jannie Pelser van Toekomsvenster som dit so perfek op:

 Hulle maak Hom toe wakker en sê vir Hom: “Meneer, gee U dan nie om dat ons vergaan nie?” Toe staan Hy op, bestraf die wind en sê vir die see: “Hou op! Bedaar!” Die wind het gaan lê en daar het ‘n groot stilte gekom. Toe sê Hy vir hulle: “Waarom is julle bang? Het julle dan nie geloof nie?” Hulle is met groot ontsag vervul en het vir mekaar gesê: “Wie kan Hy tog wees dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam?” – Markus 4:35-41

“Hierdie gedeelte het gelowiges seker van die begin af oneindig bemoedig. Stormsee is te ene male ʼn realiteit in almal se lewens. Iemand het eendag gesê jy is of in ʼn storm, kom pas daaruit of is daarheen op pad. Ons leef steeds op aarde en die lewe gebeur. Die gedagte dat Christene nie geraak en beïnvloed word deur die dinge wat elke dag rondom hulle gebeur nie, is wensdenkery. Dis ongemaklik maar waar en hoe gouer ons die realiteit verreken hoe beter sal dit met ons gaan.

Christene wat glo dat materiële, liggaamlike, emosionele en geestelike voorspoed onwillekeurig en noodwendig vir hom of haar bedoel is net omdat hy of sy glo, sal ontnugter word. Die predikers van hierdie skeefgetrekte waarheid is of oneerlik oor hul eie worsteling of leef in ʼn droomwêreld.

Hoe hanteer jy jou stormsee?

Ek kan my die verontwaardiging van die dissipels voorstel. Die boot dreig om te vergaan en Jesus lê en slaap. (Ek wonder tong in die kies of Hy nie skrefiesoë gekyk het om te sien hoe die dissipels die situasie sou hanteer nie).
Hoe ook al, hul oproep dat Hy moet help val nie op dowe ore nie. Jesus roep die wind en weer tot hul verbasing tot orde maar verwyt hulle vir hul kleingeloof.
Hoe moes hulle reageer het?
Hoe sou jy reageer indien jy in die boot op ʼn stormsee was met Jesus oënskynlik vas aan die slaap?

Die see van Galilea is bekend daarvoor dat onweer sommer vinnig kan ontwikkel en dat die see regtig onstuimig kan raak. Die gevaar was nie onbeduidend nie. Die teks sê die golwe was baie hoog en die skuit het al vol water begin word. Dis ʼn laat moment om Jesus wakker te maak. Miskien moes hulle sommer aan die begin al met Hom gepraat het. Wag jy ook totdat die storm ernstig word voordat jy met God praat?

“Groot storm” en “groot ontsag”. Interessant die twee begrippe wat met groot verbind word. As die ontsag die storm en ongemak voorafgegaan het sou die dissipels die storm dalk beter hanteer het.

Weet jy en wis jy Wie by jou in die boot is?
Dis die Skepper van alles, ook van die wind en die stormsee.”

Die wind loei steeds, die vlinders se vlerke sal nie teruggroei nie. Bome sal breek. Maar more, more sal die son weer opkom, nuwe bome sal groei en heelvlerk vlindertjies sal hulle vlerkies sprei.

God is goed so.

flutterby