My Rots en ekke en Bab

Vroeg in Maart 1984, lekker bruingebrand en uitgerus na ‘n vakansie op Plettenbergbaai,  gaan help ek my in-die-diepsee-ingegooi maats om te keer dat gholfdagspelers se dors in ‘n muitery ontaard. Bethal se Gholfklub se Woensdae-wedstryde is altyd goed bygewoon.

Dis al skemer to die noodoproep kom. Die plek is vol parkeer, en nodeloos moet ek op ‘n donkerige plek naby die begraafplaasmuur stop. My twak is geboek toe so olierige omie ook daar parkeer. Van daai wie se woorde so taai stroperig is, dat jy wil dettolbad. Ek stryk aan en gaan vinnig binne. Die kroeg is kant to wal vol gesels en kuier.

Ek word dadelik op kroegdiens geplaas. Ag toggie, waar ek ‘n bestelling neem, glip Oom Olie in, ek raak maar lekker geirriteerd met sy aandag. Op die ingewing van die oomblik betrek ek ‘n bebaarde outjie wat heel rustig in ‘n hoek by die toonbank sit en kuier met ‘n ewe-kakiegeklede vriend. Ek buk so oor die toonbank en sê vir hom ons twee is ‘n item, en hy moet ‘seblief Oom Olie op sy plek sit. Hy is verstom, maar maak toe soos ek vra.

Lang storie se kort weergawe ons is 4 Augustus 1984 op ‘n koel winterdsdag getroud. Arm soos kerkmuise – ons moes sy Cortina Big Six verkoop om die troue te bekostig – ek wees en hy met ‘n weduwee-ma. Sy eerste probeerslag en my tweede aan getroud wees.

Hier op die vooraand van ons drie-en-dertigste herdenking is ek dankbaar vir daardie oomblik, maar ook die laaste keer, dat Rots vir my geluister het!(Grappie)

Daar was maer jare, daar was vet jare. Daar is soms swaar aan die sewe sakke sout geëet, en vandag pluk ons die vrugte van die jare saam!

Ons blokraai en legkaart, hou epiese Scrabble toernooie. Ons bid saam, ons huil saam oor programme op die TV wat ns ontroer – Amazing Spaces, Blue Bloods, het ons net verlede week aan die grens gehad. Ons droom van ons dag wanneer ons die Karoohuisie meer permanent sal betrek, daar ver in Graaff-Reinet.

Ons kamer ruik saans na Vicks en Moov – sy skouer, my rug. Ons hare is witter, daar is plooie waar ons nie plekke het nie, maar ai, as daai oge so oor die bril vir my kyk en hy vertel my dat ek mooi lyk, of lekker ruik…

Mekaar se beste maats, enigste geliefdes en met die bordjie by die agterdeur wat sê ons is die honde ter wille nog saam, hehe. Ons huwelik se grootste seën is ons pragtige dogter. ‘n Besondere jong vrou wat maak dat ons gereeld hemde se knope moet vervang, want ons harte bars van trots. ‘n Geskenk uit die hemel. Sy dra ons en verryk ons lewe op soveel maniere. Ons Bab. (Die skoonseun moet nou maar asseblief begin aankom, dan is ons prentjie voltooi. Hy is klaarblyklik iewers elders besig, ‘n tydsame ou lyk dit vir my.)

19221795_10154692580448339_5490299014399012965_o

Ons lewe saam is goed. Ons is twee helftes van daardie een wat God belowe jy sal word, plus een. Rots en Ekke en Bab.

Ek bid so:

Dankie Here, dat U my tweede kans op ‘n lewensmaat in my beste omvorm het. Dankie vir die man wat die pa van my pragtige kind is. Dankie dat ons twee saam met U ‘n drie-dubbele tou geweef het wat net U sal skei. Dankie dat ons saam U kan dien, dat ons saam vir die in ons onmiddelike kring – ons kind, ons kinners van ander mammas, ons personeel, en ook die wat dit soveel swaarder as ons het – kan steun en help met dit wat U vir ons bestem het om te bestuur in hierdie lewe. Dankie dat ons elke dag saam kan leef en ‘n bestaan kan maak. Ons is dankbaar vir U teenwoordigheid in ons lewe. Amen.

 

 

 

 

6 thoughts on “My Rots en ekke en Bab

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s