Die verspieder kransswawel kom ‘n maand te vroeg by die somertuiste aan. Toe hy in die voorjaar weggevlieg het, was die stoep sy familie se heiligdom. Die honde was bejaard en die nuwe swart brak ‘n peuter wat net wil balspeel en toutrek.

Nou is die weer verkeerd. Die nuwe nessie se bodem het uitgeval, die hoofhuisnes staan vas en knus, soos die afgelope vier jaar.  Die twee bejaarde honde is heen en Koda is ‘n swart reus van oor die veertig kilogram. Vreemder egter, is dat daar reeds oral tekens van nuwe groei is, maar dis nog winter. Die Augustuswinde moet nog kom en al die spinnerakke weg- en die lentereëns inwaai.

Oral in ons tuin is botsels – die jasmyn is oortrek met ligpienk geurige blomknoppies, die boslelies se helder oranje spat deur die vaalgroen blare, die vinke wil begin nes bou.

Moeder Natuur is menoupouse deurmekaar. Dis al verklaring wat ek het. Ek dink sy voel benoud, verward.

Ek kan nog self onthou hoe ek gevoel het niks gaan ooit weer normaal voel nie. Want ek het besluit duisende van my voorgeslagte het sonder moetie die afsterwe aan hormone oorleef, selfs kaalvoet oor die Drakensberge gevoeter.  Wat maak ons moderne vroue so pieperig…dat ‘n pil vir elke skeet gesluk moet word?  So ek het ‘cold turkey’ gemenopouse.

Dit was baie vreesaanjaend vir almal om my. My humeur was ‘n Grieks-Italiaanse affêre met ‘n emosionele ouderdom van so tussen 18 en 20. Blikslaers, ek het menige dag met donkerbrille en ‘n pruik die wêreld aangepak, bang die ou by die slaghuis, dokter, apteek, bank of selfs in die parkeerterrein herken my as die vuurspewende berg van gister!

In hierdie vreeslike fase, word ons deur ‘n swerm bye getakel. Ons oorleef (sien my blogpos https://wordpress.com/post/lekkervurigeaffere.blog/54) oor die ervaring). My humeur bly erg, ek gaan snik by die psigiater. Niks van die gemoedsbekakkingpilletjies werk nie.

Sy begin bloed toets. Die menopouse is byna klaar wys die uitslag. Sy vra verder uit en pieker en dink om ‘n oplossing te kry. Ek vertel haar van die bysteek insident. Sy vertel my daar is ‘n toestand genaamd “adrenal fatigue” en kortisol, en jou byniere en ‘n hele rits goed.

Lang storie kort, ‘n baie unieke toets word bestel en ek moet in ongevalle op ‘n hartmonitor gekoppel lê, ingeval die toets ‘n negatiewe effek het. Hulle spuit jou so elke halfuur met ‘n dosis iets in, kan nie meer onthou nie. Maar voorkoming is beter as genesing. Die vampiere van die bloedbank en die ongevallespan drom saam, die toets is blykbaar uniek. So daar lê ek, proefkonyn, my eie oorlewing ter wille. Ek onthou dat ek gedink het dit lyk soos Greys Anatomy as die groentjies saam met die slim dokter rondtes doen!

Hulle kom spuit my in. Ek wag, hulle kom loer. Niks gebeur nie. Die tyd vir die tweede inspuiting breek aan, my hartklop rustig, my bloedruk glad nie drukkerig nie. Heel die teenoorgestelde wat die toets moet bereik. Kort na die tweede inspuiting raak ek aan die slaap. Hulle kom skud my ‘n uur later wakker. Ek kan nie vertel hoe salig dit was nie.

Die dokter bel my dae later en vertel dat daar ook nie fout met my byniere en kortisol telling is nie. Ek vertel dat ek so lekker voel. Wat ookal ek daardie dag ingespuit is, het ‘n vernuwende eliksir deur my gestel gespoel. Die woede het bedaar, en nou gebeur die Grieke-Italiaanse woede baie minder, maar wel nog in volle tiener-mode (bloos) wanneer dit gebeur. Die slimdoktervrou sê dit het te make met die trauma van my ouers se dood binne drie jaar van mekaar – eish.

Maar ek het die vertel oor Moeder Natuur byster geraak.

Ek dink Moeder Natuur het so genesende inspuiting van ons aardbewoners nodig. Aarbewoners wat omgee wat in die lug, in die riviere en oseane en op land gebeur. Sy moet voel ons het respek, sy is bemind. Dan sal sy minder deurmekaar voel en nie so kwaai word en die seisoene te gaan staan en verander nie.

Ek dink dis wat moet gebeur. Dan kan ons weer op 1 September Lentedag hou, en nie op 1 Augustus nie!

(Foto: http://www.cartoonaday.com/mother-nature-unleashes-her-anger-on-planet-earth/)