Die George Clark man se programme op BBC Lifestyle hou Rots en ekke baie van. Nie net oor die projekte wat mense in ‘Amazing Spaces’ aanpak interessant is nie, maar oor die algemene aard en passie van die man self. Argitek, skrywer, aanbieder en mensch.
Gisteraand is episode nege van reeks ses op ons betaal-vir-herhaal-skottelkanaal gebeeldsend. Entoesiasties vertel George van die wonderlike vonds wat ‘n bejaarde vrou gemaak het toe sy haar pa se huis na sy afsterwe opgeruim het.
‘n Klein notaboek is tussen sy besittings gevind. Die inhoud – ‘n plan vir ‘n droom karavaan. Daarbinne is, in verstommende detail, ‘n indeks, teorie, sketste, voorstelle vir dekor en selfs ‘n begroting, opgeteken!
Ons monde het oopgehang. In die fynste detail en in kleur, is tegniese tekeninge en dekor idees opgeteken. Met aanskou van die inhoud, het die ‘Amazing Spaces’-span besluit om die man se droom aan te pak, sy familie ter wille en om hom te eer.
Die uiteinde van die projek het die vrou, die ‘Amazing Spaces’-span én ons in snot en trane gehad. George Clark en Will Hardie het Jan Fursier gehelp om ‘n droom te verwesenlik.
Jan het so ewe toestemming gevra om aan die karavaan te raak, asof sy gedink het dis ‘n droom. Ook die verstomming om dit wat sy op papier aanskou het, nou in lewensgrootte en -werklikheid te sien. Dit het ons oge laat oorvloei.
Daar is vertel dat die gevangenis onder haglike omstandighede en wreedheid moes oorleef. Hulle moes enige aktiwiteit streng geheim hou, en is vir die kleinste oortreding wreed gestraf. Die foto’s van die uitgeteerde mense was hartverskeurend om te sien. Meestal moes hulle op ‘n koppie rys per dag oorleef. Ek het my verbeel dat die notaboek met die droom karavaan se planne, vir hom ‘n ongelooflike ontsnapping aan die wreedheid om hom, gewees het.
Ek het my ook verbeel hy het baie tevrede op die koekige karavaan se dak gesit en kyk hoe sy kind, haar kinders en die se kinders oor die veld na die droom wat werklikheid geword het te kom kyk. ‘n Geskenk en nalatenskap sewentig jaar later.
Ag, ek pink sommer weer ‘n lekkerkry traan. Ek gaan sommer nou daai resepteboeke en briewe van my voormense weer deurwerk – groot geskenke oor jare heen lê oral vergete.
As jy tyd het, maak tee en kyk:
http://www.channel4.com/programmes/george-clarkes-amazing-spaces/on-demand/62967-009 (benodig Flashplayer)
Wie sou kon raai!! Ek dink dis ongelooflik dat hul die projek aangepak het en ń mooi ter nagedagtenis.
LikeLiked by 1 person
Jy het my nou skoon nuuskierig!!!
LikeLiked by 1 person