Ek lees sommer so oral rond en ‘n mooi gedagte bring my uit by ‘n storie van Max Lucado, ‘Die ou man en die wit perd’.
Die storie vertel van ‘n arm man wat ‘n wit perd besit het. So mooi is die dier dat selfs die koning die perd begeer. Geen aanbod is egter genoeg om hom van die mooi dier te laat afsien nie. Sy vriende kritiseer hom – hy is te arm om die perd te hou. Blah,blah, blah. Ewe rustig antwoord die ou man dat die perd nie ‘n besitting is nie, maar ‘n vriend – hoe verkoop mens ‘n vriend?
‘n Tyd later, raak die die perd weg uit sy stal. Die mense het natuurlik die ou man veroordeel – hy kon nie behoorlik na die perd kyk nie, nou is hy geld én die perd kwyt! “Jy is vervloek,” haak hulle af, “jy kon nie na die perd kyk nie, nou is hy gesteel, en jy is steeds arm.”
Die ou man antwoord bedaard: “Moenie so gou praat nie. Sê liewer die perd is nie meer in die stal nie. Dis al feit, die res is net oordeel. Of ek vervloek is of nie, hoe weet julle. Hoe kan julle oordeel?”
Ontstoke reageer die mense: “Moet ons nie vir die gek hou nie, ons is miskien nie filosowe nie, maar dis ook nie nodig nie. Die feit dat jou perd weg is is ‘n vervloeking, dis ooglopend.”
Hy antwoord: “Ek weet die perd is weg en die stal is leeg. Verder weet ek niks nie. Of dit ‘n seën of vervloeking is, die weet ek nie. Ons sien net ten dele, slegs ‘n flentertjie. Wie weet wat kom volgende,” antwoord-vra die ou man bedaard. Nou éérs vererg, storm die mense daar weg. Die ou man is gek verby. Hy kon die perd verkoop het en van die opbrengs gelewe het. Nou moet hy hout kap en van hand na mond lewe. Nee, wrintie, daar is nie medisyne vir dom nie!
Twee weke later, daag die perd op. Hy was nooit gesteel nie, maar het die woud in verdwyn. Die perd het ook nie alleen teruggekom nie. ‘n Hele dosyn makkers het saam gekom! Die dorpsmense drom opgewonde om die houtkapper se huisie saam. Hulle kwetter soos kanaries. “Ou man, jy was reg en ons verkeerd. Wat ons as ‘n vervloeking gereken het, is toe ‘n seëning. Vergewe ons.”
Hy antwoord weer bedaard: “Julle gaan alweer te ver. Die perd is terug, dis al. Daar het twaalf perde saam teruggekom, moenie verder oordeel nie. Hoe weet ons of hierdie ‘n seëning is of nie? Ons sien net ten dele, net ‘n fragment. Dis slegs wanneer ons die hele prentjie sien, dat ons kan oordeel. Mens lees mos nie net een bladsy van ‘n boek om die hele verhaal te beoordeel nie? Lees mens ‘n enkele woord van ‘n spreuk om die hele spreuk te kan begryp?”
” Die lewe is so epies groot en kompleks, maar julle wil die lewe oordeel met die lees van ‘n enkele bladsy of by die aanhoor van slegs een woord? Al wat julle het is ‘n flentertjie inligting, ‘n fragment! Moenie kom vertel dit of dat is ‘n seën nie, niemand weet nie! Ek is tevrede met wat ek weet, en geensins ontsteld oor wat ek nie weet nie.”
“Miskien is die ou man reg,” sê die dorpsmense vir mekaar. Hulle bly toe maar verder still. Maar, diep in hulle binneste het hulle geweet hy was verkeerd. Hulle wéét dit was ‘n seën, die twaalf perde wat saamgekom het. Met ‘n bietjie werk, kon hulle ingebreek en opgelei word en vir ‘n klomp geld verkoop word. Seëning voorwaar. Simpel ou man.
Die ou houtkapper het net een seun gehad, sy enigste kind. Hy het dadelik werk begin maak om die perde in te breek. ‘n Paar dae later, gooi een van die wilde perde hom af, en hy breek albei sy bene. Die dorpsmense kom simpatiseer en beoordeel die situasie dadelik. Dis mos wat mense doen.
“Jy was reg,” het hulle gesê. “Jy het jouself reg bewys. Die twaalf perde was nie ‘n seëning nie, dit was ‘n vervloeking. Jou enigste seun het albei sy bene gebreek, en in jou oudag het jy nou niemand om jou by te staan nie. Jy is armer as ooit tevore.”
Rustig antwoord die ou houtkapper hulle. “Julle is obsessief met julle veroordeling. Moenie! Sê liewer net my seun het sy bene gebreek. Wie weet of dit ‘n seën of vloek is? Niemand weet nie. Ons het net flentertjies inligting. Die lewe kom net in fragmente.”
So gebeur dit ‘n paar weke later dat die land oorlog verklaar teen ‘n buurland. Al die jongmanne van die dorp word tot diens opgeroep. Die ou houtkapper se seun is kwytgestel, want hy was beseer. Weer kom die dorpsmense na die houtkapper. Hierdie keer huilend en skreeuend, omdat hulle seuns weggeneem is. Almal het ook besef dat die kanse om hulle kinders weer lewend te sien, maar skraal was. Die vyand was oorweldigend sterk en die stryd verlore.
“Jy was weer reg,” het hulle geween. “Die Here weet, jy was reg. Hierdie insident bewys dit. Jou kind se ongeluk was ‘n seën. Sy bene is wel gebreek, maar ten minste het jy jou kind by jou. Ons seuns is vir ewig weg!”
Die ou man antwoord. “Dit is onmoontlik om met julle te praat. Julle maak gedurig afleidings. Niemand weet nie. Stel dit liewer as volg: Julle seuns moes oorlog toe, myne nie. Niemand weet of dit ‘n seën of vervloeking is nie. Niemand het die wysheid om te weet nie. Net God weet!”
Ek loop ‘n oordenking op ‘n Portugese blad saam met die foto hierbo raak. Rofweg vertaal: “When you judge, you stop growing. Judgment means a state of mental stagnation. And the mind wants to judge, because being in a process is always risky and uncomfortable. In fact, our journey never reaches the end. One path ends and another begins: one door closes, another door opens. You reach a peak, there has always been a higher peak to reach. Those who do not judge, and are satisfied simply to live in the present moment and by doing so – grow. Only they are able to truly walk with God.”
Gistermiddag kom die volgende ook te voorskyn oor die Ou Man en die perd van Max Lucado op ‘n blad wat ek laaik: “We see only a sliver of the sum. We cannot see how the bad might be good. God is sovereign and He is good and He sees and works all things together for good.” – Anne Voskamp
Taai opdrag – maar die moeite werd, of hoe? Moes dit deel.
Dankie dat jy dit gedeel het. ñ Taai opdrag, maar beslis die moeite werd.
LikeLiked by 1 person
Absolute fantastiese deel. Baie dankie vir die stof tot nadenke, asof dit aan my geskryf is.
LikeLiked by 1 person
Ek moet bely, ek het ook altyd ‘n opinie.
LikeLiked by 1 person
Dankie vir die mooi een Tannie. Iets om mooi oor te dink
LikeLiked by 1 person
I love this!
LikeLiked by 1 person