20170709_134852

Saterdag, 8 Julie 2017.

Ons sweef inni wolke oor die Innibos teaterhoogtepunt, Fiela se Kind, die Nelspruit Hoërskool-ouditorium binne.  Ons gaan ons enigste musiekopvoering bywoon. Flennie die snare. Frans Swart is die regisseur en ook skrywer en verwerker hiervan. Ons sien uit na die unieke Boerneef Afrikaans en die talente van Chris Chameleon, Anna Davel, Johny Klein en Daniella Deysel, met Jaconell Mouton (musikale regisseur), Mauritz Lotz en Riaan van Rensburg.

Johny Klein, Selling Komoeti en ‘n ander karakter of twee van 09h00 tot 12h00  in Fiela se kind, en om 15h00 stip, Boerneef hy verder vrolik saam met Chris, Anna en Danielle in Flennie die Snare.

“Johny, o Johny, dankie, dankie.” Ek was bevoorreg om toeskouer te wees toe Shaleen Surtie-Richards Johny Klein se gesig in haar hande geneem het en hom ‘n hartlike druk en vele soene gegee het na hulle skittervertoning Fiela se kind.

Wat ‘n veelsydige lewenslustige mens. Absoluut waar staan dit  in sy CV : “Toe die teatergode wink, was Johny Klein gereed om te antwoord en sedertien laat hy geregtigheid geskied aan enige rol wat na sy kant toe kom.”  Akteur,  en na Flennie die Snare, sanger ook!

So beleef on hom weer met ons laaste Innibos vertoning. Boerneef se kosbare woordkuns word 50 jaar na sy dood gevier in hierdie pragvertoning, Flennie die Snare.

 Bantom hom so
En flennie die snare
Ek is verlief op die kind
Die son slaan vuur uit die sweetvoshare
Ek is verlief op die kind
– Boerneef

Die meeste Boerneef wat mense vandag mee te doen kry is toonsettings van sy verse, veral ‘Voshaarnooi’ van Louis van Rensburg wat drie Boerneef gedigte kombineer om die lied wat in Ballade vir ‘n Enkeling gebruik is. ‘Die kind was lief vir naaldekokers vang’ getoonset en gesing deur Laurika Rauch is ook bekend.Daar is egter veel meer te put uit Boerneef as die twee liedere.

Die produksie was vrolik en speels en dan weer nostalgies  en hartseer.  Ons het  alles baie geniet en veral ‘Voshaarnooi’, ‘Die kind was lief vir naaldekokers vang’, “Klara Majola’ en “Op die trem’.   Die encore het ons almal jillend gehad – “Varkleerbaddjie en klinknaelbroek….”

Whoohoo.
Innibos is vir M en my op ‘n hoë noot afgesluit. En ek het ‘n nuwe fên vir Boerneef gewerf!
Kersie op die koek afsluiting vir ‘n feestelike Innibos 2017, was smerige lekker seekos by Adegas Nelspruit. Gaan smul gerus daar en vra vir die Swart Sambuca Don Pedro…jo!
Fluit, fluit, my Innibos relaas is uit.