Innibos_tema2017_sliderOpgewonde vertrek ons verlede Vrydag vroeg uit Polokwane. Stop in Tzaneen vir lekker koffie. Ry verder via die prentjiemooi roete al langs die kronkelvoet van die Drakensberg, Strydomtonnel deur, al met die eskarp verby Drie Rondawels,  Bourke’s Luck, oor die Blyderivier, verby Goedgeloof Plantasie, oor die Treurrivier. Kindertyd herinneringe tafereel deur my gedagtes en my hart klop warm. Ons ry Graskop en Sabie deur.

Mbombela toe.

Innibos toe. In my beursie dubbelkaartjies vir vyf vertonings in ‘n Computicket koevertjie toegevou. My mede-reisiger aan die stuur, my kosbare M.  Geliefde van ons oubroer se seun. Kinders na aan ons harte. M is die een lid van ons familie wat saam met my die teater-, boeke-, woorde-, drama-ding doen. Ons is voëls van enerse vere in meer as een opsig, al verskil ons  baie jare in ouderdom. Ons siele sing dieselfde.

Ons kwetter soos twee kanaries en verwonder ons aan die lowergroen Laeveld, ruig en wulps. Die mooi laning flambojantbome aan die buitewyke van die stad, groet ons met groen takke oorlaai met oranje blomme wat oor die pad sprei, nes flamencodansers se valle.

Ek dink ewe liries die laning is die geboortekanaal na vernuwing van ons moeë Suid-Afrika-het-ons-in-‘n-knelgreep-gemoedere. Onderweg om verfris en herlaai te word deur goeie teater en musiek. Oormaaksessie en verposing tegelyk. My mymer word skerp onderbreek.

“Kyk, sy het nie ‘n broek aan nie,” gil M. Langs die pad staan sowaar ‘n vrou, T-hemp so millimeter te kort om iets aan die verbeelding oor te laat. Hier word beslis nie kuns bedryf nie. Ons skok laat ons skielik nog meer sien. Hier is baie beweging in die ruigte. Oral ‘n vrou met skamele klere, lyf sjokoladebruin en blink. Lippe rooi geverf. Te koop. Skuins agter ‘n padwerkewaentjie is ‘n lae, beige luuksemotor parkeer, transaksie heel moontlik aan die voltrek.

Ons is stil van skok en nader ‘n sirkel.  Wrintiewaar!  Daar staan nog drie – groot hare, geverfde lippe, lang naels en so verveelde kyk na nêrens. Een wragtig besig om ‘n bloedrooi pantie aan te trek! Iets is los in dié bos.

M kyk so skuins na my. “Die lewe is hard, maar ai dis tragies, en aaklig,” sê sy. “Dit is my kind,” antwoord ek.  Gou moet ons konsentreer toe ons die dubbelweg stad in aanpak. Suri help ons na ons bestemming, die Nelspruit Burgersentrum waar hulle stadsteater ook geleë is.

Asem, ‘n uit Engels vertaalde stuk van Reza de Wet, is eerste op ons lys. Ons sit in ry A. “Ons gaan alles eerste sien” terg ek vir M.  Die program waarsku: Geen onder 16 SNL.

Die stel is gestroop, jy hoor die wind loei.  Die spel is boeiend. Hier by ons op die punt, lê Stiaan Bam en kreun – sy rol ‘n kamee wat ons land, die boerenasie, die mans aan die einde van die ABO verteenwoordig. Oorwin, gebroke, sterwend. Op ‘n stadium vlie hy op – poedelkaal. M vertel na die tyd  daai was darem ‘n lang dertig sekondes!

Maar die konteks moet nie uit die oog verloor word nie. Reza de Wet was immers bekend vir donker, diep, gotiese, mistieke simboliek in haar werk.  Antoinette Kellermann, Tinarie van Wyk Loots, Stian Bam en Edwin van der Walt onder regie van Marthinus Basson, wie ook die vertaling behartig het uit die oorspronklike werk Breathing in, trek jou in die verwikkelde drama in. Die kaal maak nie saak nie, want die boodskap is so sterk.

Asem

Die program verduidelik so:  “Een donker, stormagtige aand gedurende die laaste bitter dae van die  Suid-Afrikaanse oorlog, in ʼn uitgebrande skuur van ʼn plaas lê ʼn gewonde Boeregeneraal wat versorg word deur Anna, ʼn kruiedokter wat oor uitsonderlike magte beskik. Haar aantreklike, maar bloedlose dogter, Annie, is ook besig om te veg vir haar lewe, maar het veel meer nodig as haar ma se konkoksies. Die generaal se dapper en getroue adjudant, gebrei deur die slagveld en die afgryse van die oorlog, staan nou voor ʼn verskriklike keuse en ʼn nuwe onnoembare gevaar. In die wêreld waar mans, in die naam van patriotisme lewens en landskappe vernietig, moet vroue meer subtiele en misterieuse metodes ontwikkel om te oorleef. De Wet verweef digterlik en kragtig ʼn verhaal van liefde in ʼn tyd van vernietiging, wat die alledaagse omskep in die uitsonderlike. Hierdie is ʼn huldigingsproduksie aan die ontslape dramaturg, Reza de Wet – een van Suid Afrika se belangrikste en meer invloedryke toneelskrywers.”

Later die middag is Amper, Vrystaat aan die beurt. Puik tragi-komedie. Ons het op ons voete gamperevlieg toe die drie vroue met ons klaar was.

Antoinette Louw, Milan Murray, Cintaine Schutte het self die teks geskryf en die rolle vertolk. Die verhoog was gestroop aan dekor. Net drie eilandjies elkeen met ‘n enkele gloeilamp, een op ‘n slag aan, as ‘n karakter op haar eilandjie aan die praat is.

Ek sit so en kyk en besef al deel mens dieselle ouers, ons almal uniek onself is. Ek besef ook vervreemding is nie goed nie, maar soms wyl elkeen sy groei moet groei – onvermydelik.

Ons lag en huil vir 60 kosbare minute. ‘n Persoonlike hoogetpunt is waar kleinsus vertel van walvisse wat op die strand uitspoel, en so terwyl hulle wag om te sterwe, sing hulle vir mekaar. “En as enetjie alleen uitspoel, dan sing hy maar vir homself.” Ja, soms moet jy goed alleen in die oë kyk,  en net soms het jy steun. Amper, Vrystaat is waarlik  “ʼn komedie met hart. ‘n Storie met waarheid wat elke mens raak.”

Daisy.jpg

So Ry Miss Daisy.  Wat kan ek sê. Sandra Prinsloo, John Kani  – saam op die verhoog na al die jare. Hulle soen nie in die stuk nie. Hulle is ouer.. ek grap net.

Die stuk is eg-Suid-Afrikaans vertaal. Kudos aan Alfred Uhry. Christiaan Olwagen, wat ook ‘n rol speel, is die regisseur. Ag, en daar tjank ek te lekker – hulle gebruik Cornella se ‘Picking up pebbles’ wat ek net nou die dag vir my ma op my blog geplak het…

Die storie van ‘n oor-die-kleurgrens-heen vriendskap wat strek oor 25-jaar. Dis meesterlik deur die twee ikone vertolk. Ons kon nie lank genoeg staande hande klap en juig nie. Toe ons huistoe ry en M ‘n draai te vinnig kap, sê ek net: “Hoke!” M antwoord laggend:”Ja, Miss Daisy.” Ons skater te lekker van die lag.

Toe ons na die vertoning terug na ons slaapplek gaan, ry ons verby ‘n taverne. Kyk, sowat van luukse motors en ontwerpergeklede mense op die straat het ek lanklaas gesien.  Onder flitsende ligte op die balkon is dansende lywe te sien. Ons verkyk ons terwyl ons stadig verby ry.

‘n Blok verder, omring deur hulle ware, lê straatsmouse saam met bedelaars op die sypaadjie, onder kartonne en slaap. Ja,Suid-Afrika – so oorleef ons in oordaad en armoede, haarbreedtes van mekaar.

Word vervolg….