Vanoggend spring hierdie pos van verlede jaar op die Vuisboek uit.

6 Julie 2016

Die geskel in die nuus oor ander se foute en misstappe laat my rondkrap in bêregoed om te ontvlug. Ek kry dié waarheid wat my skoonma 31 jaar gelede met my gedeel het. En ek besef ek het immer harde geloofsoefening nodig. Geloof is nie gimlidmaatskap nie! Jy moet elke dag opdaag, want daar is altyd iets wat uit die oefening sal baat, meestal my siel.Image may contain: text

Kon dit net sowel vandag weer pos, dink ek by myself, niks het verander nie, maar tog het alles verander.

6 Julie 2017

Vandag is ook die dag wat my selfmoordma se verjaardag sou wees. My Sussie pos vir haar ‘n verjaardagkaartjie. Ek wil vandag hier vir haar skrywe:

Liewe Anna Malat,

Anna en werner

Dankie dat jy my die wêreld ingebring het. Dankie dat ek baie geleer het, in die kort tyd saam met jou en Pa en Swartjie. Dit was kort en kragtig, jou ouerskap en lewe.

Jy is vir ewig jonk en mooi saam met Marilyn Monroe, James Dean en Pa.  Hierdie foto is my gunsteling, dis net al verdof.

Swartjie en ek is al jare ouer as julle. Die tyd se aanstap wys om ons oë en monde, maar nie te erg nie – julle genetiese geskenke is nie te sleg nie – “We wear it well….”

Ek is  lankal nie meer hatig kwaad vir jou nie, het so ruk gelede besef jou pad was joune, en my pad is myne.

Elke mens het maar lewenswerk om te doen en om te leer sodat ons oopgebreek en as volgroeide selwe voor God te kan staan, elkeen alleen.

So ek kan vandag op die dag wat ons jou meer as ander dae voor oë hou, se ek is lief vir jou, ek mis jou teenwoordigheid op die pad voor my. Ek mis die wete dat  my ma vir my bid, ek mis dat jy nie jou kleinkinders, en veral my meisiekind kon sien nie. Dat jy kon beleef hoe dit voel om ‘n stukkie van jou die toekoms in te sien stap.

So ja, mis mis ek vir jou – my ma.

En soos die Onse Vader wat ek elke dag oor moet leer bid, vra ek vergifnis vir my kwaad en seer, en ek vergewe jou. Die grootste besef is dat my seer te make het met hoe ek gekies het om jou dood te hanteer, nie regtig met jou as mens nie. Sjoe.

Die Serdep help vir die gevolge van my keuses.

Sê groete vir Pa en Ouma Stomp en Oupa Faan, Oom Ben en Hennie.

Heelgelapte liefde

Rina

NS. Op jou verjaardag luister saam….