My ma se brief, olyfgroenkoevert en -skryfpapier, is onder deur my kamerdeur gestoot.  Ek was in die biblioteek toe die pos afgelewer is. Dis my laaste dae as student. My eindeksamen ‘n pad van geen omkeer. Drie jaar se leer, ervaar, groei amper verby.

Sy skryf:

Ek is dankbaar vir haar brief, maar sien nie die twyfel en voorbode raak nie. Want sien  24 dae later, ek pas klaar studeer en skaars twee dae tuis, skiet sy haar self. 

Malat het jy geweet wat jy gaan doen, toe jy hierdie laaste skrywe aan my rig? Was daar geen ander opsie vir jou nie? Het Swartjie en ek nie in jou ma-hart geskreeu dat jy ons nie sommer so kan los nie? Weet jy jou besluit het ons wees gemaak? 

Ons het in ons angs en seer en verworpenheid drie stories versin:

1. Die lekkerigheid aan jou bors was kanker, en jy wou nie aan jou mooi lyf laat verwoes nie

2. Jy wou van die oom skei, maar hy was te oud om ‘n lening te kry sodat jy jou belegging in die eiendom kon verhaal, dis wat jou daai laaste dag so redeloos woedend gehad het.

3. Dis nie jy wat daar in jou koningsblou kamer die sneller getrek het nie…maar dis vergesog. Daar staan op jou doodsertifikaat: selfmoord.

Feit is jy het ons lewens opgeskeur daardie aand. Ons was soos wilde diere, niemand het met ons raad gehad nie. Jou mense was so verskrik,  ons het maar ons make gemaak, en wonder bo wonder, dit oorleef.

Hengse lot pyn en wonder. Baie foute en leer. Leer alleen wees,  leer oorleef.

Jy was my ma. Jy was veeleisend. Jy het my egter baie geleer.

Dankie dat jy huistrots was. Dat vars linne,  skoon handdoeke en netheid soos my asem is.

Dankie dat jy jouself so mooi versorg het. Dat ek elke oggend lipstiek aan sit en parfuum aan my kuiltjie en polse tik. Dat ek my toonnaels kleurvol tooi. Dat my Rots nog steeds sê ek lyk mooi. Nes Pappa vir jou vertel het.

Dankie dat jy met jou emosionele jaloerse,  dikwels heeltemal onnodige, uitbarstings, my geleer het om ‘n afsku daarin te hê. Ai Malat, daai asbak wat jy gesmyt het, daai blomme wat jy in die asblik gesmyt het. Onnodig. Die lewe is te kort. En my pa was heeltemal te lief vir jou. Soveel so, dat jy nie sonder hom kon leef nie. Nie eers vir julle kinders nie.

‘Skuus, ek wil nie dat hierdie soos verwyt klink nie.

Malat, jou dood is ‘n foutlyn soos die een in Kalifornië, ek weet dis daar, weet nie wanneer dit gaan skuif en beweeg nie.

Ek moet op 58 bely dat my grootste geveg dikwels met my 20-jarige vrees en woede is. Dis ‘n verleentheid wanneer ek dit met mense verloor. Grys hare en plooie, en tiener hormonale reaksies. Flip, dis ‘n helse verleëntheid.

Gelukkig het ek my woede na binne, hulle noem dit depressie, leer ken. Ek het leer leef. Wankelrig, maar tree vir tree, en hulp van ‘ n pilletjie of twee en baie binne werk en groot Godgegewe genade elke dag tot hier gekom.

Malat, as jy nie toe weg is nie, het ek nie vanaand hier gesit en skryf nie. Het my Rots nie by my gesit en rugby kyk nie, my Koda hond nie die duiwel se sulfaat gelê en poep nie. Was jou lieflike kleindogter nie my beste vriendin nie.

Ek sal altyd wonder oor jou laaste oomblikke. Vandag, toe ek weer jou laaste brief lees, besef ek dat jy moet weet jy is vergewe, jy is geliefd, en jou wens vir my het waar geword.

Deur bloed, en sweet en seer en trane. My lewe is vervuld en gelukkig. Net soos jou wens in my laaste verjaardagkaartjie,  31 Desember 1978, ‘n jaar voor jy alles verander het.