Vir Swartjie

Liewe Swartjie

Jy is al amper nege maande kwaad en niks wat ek doen of sê gaan dit klaarblyklik verander nie. Voor ek dan my aanpas by ons nuwe verwyderde verhouding wil ek eers onthou. Ek skryf  ook via my Blog vir jou, want miskien leer ons twee se onmin iemand anders om nie dieselfde fout te begaan nie.

Hierdie foto’s hierbo is geneem toe ons na Pappa se dood baie van die skool se prestasiebekers huistoe gebring het. Die verwarring en seer is op ons albei se gesiggies te bespeur. Dit was 1976.

Maar kom ons tree nog terug, daar in die sestigs, toe jy deel van my lewe geword het.

Jy is drie jaar en agt maande jonger as ek. Ek is ‘n baby-boomer en jy is die volgende generasie.

Toe ek skool toe is, koshuis toe, het jy by Mamma-hulle agter gebly. My wêreld het daar verander – ek het ‘n langnaweek- en vakansie sussie vir jou geword. Dit was Graad Een.

Ek hoop jy onthou hoe ek vir jou Bybel-stories moes lees. Daar was een aand, ek dink ons het van Josef se mooi kleed gelees, toe jy gang af gestorm het en eers met die swart mamaba onder die telefoontafeltjie gesels het, en toe vir Pa-hulle in die sitkamer gaan vertel het. Pa-hulle het groot geskrik, en die poging om die slang by te kom het al Mamma se African Violets op die stoep in die slag laat bly!

In  my Standerd Een jaar was ons as gesin saam op Komatipoort. Ek wonder of jy weet hoe naby aan dood jy was toe jy malaria gekry het? Hoe jy van koors gegil het dat ek jou wil doodmaak, en ek bang in die gang gebid het toe die dokter vir Mamma vertel jy gaan dit nie maak nie, en hoe die tannie gekom het met branspirituslappe en jou koors gebreek het.

Kan jy onthou toe jy pa se sigaretstompies op jou hurke gesit en rook het? Dit was by vriende se huis, en pa het vir een of ander rede stompies by die venster waar hy gesit het, uitgeskiet. Ma het jou op heterdaad betrap, en ek was in die spervuur oor ek nie gesê het wat jy aanvang nie.

Kan jy onthou toe ons fietse gekry het vir Kersfees en Mamma op my fiets vooruit gery het en ek op jou fiets agterna, eers wankelend en toe redelik gebalanseerd, maar toe vergeet ek om te draai en foeter in die haak-en-steekboom in. Die merke van daai dorings is nou nog op my kneukels te sien!

In Standerd Twee is ek terug koshuis toe.  Ons het weer in Swaziland gaan bly. Kan jy onthou hoe ek vir jou moes wegjaag oor jy kwaad was vir my geterg, en bo-oor die sementtrap by een huis gevlieg het en bo-op die afgesnyde bloekombome beland het en my knieë neerf-af geval het? Daar is nou nog ‘n Afrika-kaart onder my knie ingekerf.

Onthou jy ons Barbie-pophuis en al hulle mooi klere en skoene? Othou jy ons sandput? Hoe ons slae gekry het omdat ons saam met die bediende in haar kamer op ons hurke om die pappot  saam met haar bolletjies gemaak het en deur die lekker marog getrek het. Ma was baie vies dat ons gereken het haar kos was nie so lekker nie!

In Standerd Drie  sou ek nie meer alleen koshuis toe nie. Jy moes skool toe gaan, en ons moes Nelspruit toe ry om jou lang swart vlegsel af te sny. Want hoe sal ons nou in die koshuis jou oë sjinees getrek kry soos Ma en Ouma?  Flippit, Ma en jy en ek het getjank toe die haarkapper daai sker aan die bokant van jou vlegsel insteek. Het jy dit nog – die vlegsel?

En toe jou mooi kort kapsel net mooi lyk, hoor ons, ons gaan nie terug koshuis toe nie. Ons het Witrivier toe getrek en jy kon uit die huis skool begin.

Ek onthou hoe ek jou beny het omdat jy in Augustus verjaar. Hoe ek jou en die maatjies dopgehou het en jy kerse doodblaas. Ek het nooit so ‘n verjaardagpartytjie gekry nie, ek verjaar op Oujaar, daar was ander dinge om te doen.  Maar ons was lekker stout saam

Onthou jy ons pak slae oor ek jou leer swaai het aan die handoekreëling? Of toe jou wou weet hoe gooi mens op, en ek vertel jy druk net jou vinger in jou keël. Ons het daardie aand lettertjiesop gehad. Na jou braaksessie in die bad, het ons binne in die ABC-gesit!

Toe ons Goedgeloof toe trek en op Pelgrimsrus skoolgaan, kan jy onthou hoe die bestuurder, dink sy naam was Jackson, ons leer bussie bestuur het? Kan jy ook die swem in die dokter se swembad onthou en die kleilatspeel in die donga?  Kan jy die dag onthou toe jy moeg fietsgery was en ek jou geterg het dat die bobbejane ons gaan kom vang. Jou fiets se voorwielbuffer het my bokant my knie tot op die been oopgekap, en hoe ons altwee wit van die skrik huistoe is en ek pakslae gekry het oor ek gejok het oor hoe ek seergekry het, om jou bas te red?

Toe ons die eerste keer polestriën in die hande kry en jy teen waarsku in ‘n stuk op die donkie vir ons warmwater se vuurwarm blad neergegooi het, en ‘n stuk soos springmielies jou teen jou been getref het en vir jou liederlik gebrand het.

Dan is daar jou karretjies – die mooi tas wat Pappa vir jou gebou het. Daar was niemand wat ‘n versameling soos jy gehad het nie. Die seuntjies was groen. Ek onthou daai terras wat Pa agter die huis vir ons met klip en sement uitgemessel het, sodat daar paadjies was vir die karretjies!

Ag, en ons dagdrome in die boomhuis in die bloekomboom. Ons het darem groot speletjies kon speel. Die ou kar waarmee ons klomp kinders in die plantasie kon rondry. Daai dag wat die brandstof opgeraak het, en ons die bonnet vir vyf kilometer swoegend gedra het, omdat hy maklik verwyder kon word. Vergeet die battery en ander onderdele. Simpel kinder-redenasies wat ons goed laat sweet het!

Die swem in die kristalhelder poele – eie swembaddens oral op die plaas. Die soek vir paddastoele en al die dagdrome op die digte mat van die denneplantasievloer.  As jy so op jou rug lê en die son speld so deur die takke – magies. Die reuk van plantasies laat my vandag nog ons kindertyd onthou.

Hier het ons ook amper jou vir ‘n tweede keer verloor aan skarlakenkoors. Ag jy was so siek en swak. Ons het rou eier en vanilla met ‘n druppertjie in jou seer mondjie afgedrup, en jy het van pyn gehuil. Ag, een dag vra jy vir Mamma frikadelle – sy gaan maak vir jou en kom kamer toe, en jy kyk so met jou pap ogies: “Mamma, ek kan net ruik, ek kan nie sluk nie.” Hoe Mamma buite gaan huil het en ek en Pappa nie kon eet nie. Jy het ons baie laat skrik, veral ook as die asma jou blou om die mond gelaat het.

Kan jy onthou hoe jy vir Pa moedeloos gehad het in die Wimpy in Natal iewers. Hy het vooraf ons vertel van hamburgers en melkskommel en roomys en sjokoladesous.  Toe ons daardie oggend vroeg stop vir ontbyt het jy met jou pienktrui kierts op jou knieë op die rooi bankie gesit. Almal bestel koffie en ‘n broodjie, en jy: Roomys en sjokoldaesous. Pa was naderhand boos, en het jou badkamer toe gevat. Verniet. Jy hou voet by stuk. ‘n Ou tannie het haar vir pa vererg, hom goed ingesê en jy het op die ou einde jou roomys brekfis gekry!

Onthou jy ek is weer koshuis toe op Sabie vir twee jaar omdat ek moes hoërskool toe? Hoe bly ons was toe ons hoor Pa wil terug Swaziland toe, en ons kan by Oupa en Ouma op Kempstone bly!

Die ou oranje Fordjie en Ouma en ons twee, elke oggend en middag heen en weer. Hoe ons vir Tanna bewonder het met haar mini-minirokke. Hoe sy en Alan ons skou toe gevat het in ons Duffel jasse?

Hoe histeries ma was oor  die witmuis wat in ons skoenekas gebly het!

Die Vrydagaand flieks en danse by die “very English Social Club” in Piggs Peak. Onthou jy toe ons in die motor-ongeluk was – daardie oggend is my voet nog in gips gesit, en na die blikkieskos op ons koppe geval het, ek van die harsingskudding nie kon onthou nie.

Onthou hoe het ons getjank om Ouma en Oupa te los en saam met ma-hulle Kokstad toe te trek. Kan jy onthou hoe ons daar in die motorhuis vir ure gesit en papierpoppe teken en self klere ontwerp?

Daai dag wat die voordeurruite in duisend stukke gespat het omdat ek jou weer eens geterg het tot jy my met ‘n mes agternagesit het. Ek moes deur ‘n venster klim om weg te kom. Jy agterna. Toe ek die voordeur in jou gesig toeklap, en jy die deur skop en die ruite tuimel. JO, ek dink daai was my laaste pak slae – dit was Standerd Nege.

Kan jy onthou jy het my een aand met die bord op my gottabeetjie geslaan en my bord kos wat ma pas ingeskep het, het die kombuisvloer vol gespat. Ja, ons was maar moedswillig met mekaar ook. Maar ai, ons het avonture gehad.

En toe kom haal die dood kort agtermekaar ons ouers.

Ja my Sussie, jy was ook daar toe Pa dood is, ons was ook saam toe ma dood is. Ons het saam opgepak toe Oom Piet sorg oor jou afteken. Ek om ‘n huis vir ons te maak, en jy koshuis toe vir die eerste keer in jou lewe. Dit was ‘n onlekker tyd in ons twee se lewe, maar ons is daardeur. Blapse en foute en al. Ek was daar  toe jy en jou man begin uitgaan. Julle is uit my poging tot ‘n huis getroud.

Toe trek  ek weg, en van toe af is dit maar ‘n laslapverhouding. Jy tussen jou skoonmense vir die afgelope 37 jaar en ek tussen myne. Honderde kilometer uit mekaar.

Ek moes my aanvanklike huweliksfout oorleef.  Goddank vir Rots, vir wie ek 33 jaar gelede opdrag gegee het om my op te pas. Dié doen hy steeds met groot liefde. Julle het ‘n lewe uitgekap en vandag ouers van drie yslike manne. Rots en ek ouers van onse Bab.

Ek gaan die interessante en avontuurgevulde grootword jare met my swartkop sussie onthou vir wat dit is – goed en vol. Ek sal elke dag vir jou en jou manne bid, en ek sal vir jou lief wees – altyd. Ek is bly julle het ‘n mooi huis, goeie inkomste en dat julle almal gesond is.

Ek gaan nie derms uitryg oor ons huidige nie-bestaande verhouding nie. Ons het maar almal foute.  Jy moet maar op jou tyd jou woede hanteer en asseblief ophou om te oordeel. Dit kom nie vir een van ons toe nie. My gebed is dat ons nie eendag by grafte moet staan en krokodiltrane huil oor spyt nie.

Onthou die whatsappboodskap: Die Here gaan nie die ou vir wie jy kwaad is met ‘n slaanding bykom nie. Die Here sal nie namens jou so intree nie. Dis ons werk om mekaar te vergewe. Gaan dink mooi en trek peil oor wat werklik fout is.

Ek het vanoggend die piouterfeëtjie met haar blou vlerkies op my spieëltafel gevryf – ek bid jy het die virtuele drukkie gevoel. Ek hoop die pienk enetjie staan nog op jou spieëlkas.

Baie liefde

Jou Ousus, Rina.

 

 

 

 

 

 

13 thoughts on “Vir Swartjie

  1. Jy laat my ma-hart huil. Ek bid julle toe ń gesonde sussie-verhouding. Dat julle herinneringe die band tussen julle weer sal versterk. Ag, ek bid julle net ons God se vrede, vreugde en vryheid toe. Net soos ek dit vir my eie drie meisiekinders by Hom afpleit.xxx

    Liked by 2 people

  2. Auwh, dit is so hartseer. Jou onthoue is so baie nes myne… maar met my ma se afsterwe het ons 4 kindertjies ook elkeen laer getrek om sy eie “goed” en is ons vandag half en half vreemd en onseker met mekaar, maar niemand weet hoekom of waarom nie. Ek lieg eintlik, dit lyk of ons ‘n gly inmekaar gekry het. Dit is sleg.

    Liked by 2 people

    • Om nou as middeljarige so terug te kyk, is ek jammer vir die twee dogters wat my sussie en ek was, maar ook dankbaar vir waar die lewenspad gelei het, want my Rots en my Bab is groot seën. Vrede tussen my en haar, al is dit op ‘n afstand sal ‘n bonus wees. Ken daai gly gevoel. Dink dis hoe ons die kinderlike emosie van verwerping na ouers se dood internaliseer en deel van die lewe maak. Ons moet dit ondersoek.

      Liked by 1 person

  3. Sjoe hoe brand my oe nou… ek hoop so sy kan hierdie lees… sien hoe life jy haar al die jare gehad het en hoe jy haar gekoester het… dis so verdomp onnodig en hartseer. Ek hoop en glo saam jou dat dinge gaan regkom – jy moet bid dat God in haar hart werk. Sterkte

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s