Suiwer Goud

As jy op die stoep van die Royal Hotel in Pelgrimsrus staan en teen die oorkant die veld inkyk, kan mens nog vaagweg twee plat terasse raaksien.  Jare gelede het daar ‘n asbesgebou gestaan. Laerskool Pelgrimsrus. 
Ja, daar het ek saam met kinders van die dorpie en omgewing skoolgegaan. Die plaaslike dokter se huis het so skuins bokant die skool gestaan. So mooi groot huis met stoepe en ‘n swembad.  Die dokter se dogter, Dottie en ek was die skool se standard vyf klas. Ons twee het, toe die grade juffrou met kraamverlof was, die kleintjies opgepas, skool gegee.

Ons het klomp kattekwaad aangevang. Wanneer die onderwysers vergadering gehou het, het ons al die kleintjies bymekaar gemaak en opgetrek na Dottie se huis. Daar was ‘n krat met swembroeke. Gou was almal in verskeie eras se swemdrag in die water. Kleintjies met vlerkies,  almal hangend aan trekkertjoeps, in die middel van die swembad. En ons jil en jou. Mevrou Dokter doof vir die pret.  Ons hoor vaagweg die skoolklok. Kort voor lank dans die skoolhoof en die onnies om die swembad. Vandag gaan ons nie verder skool nie.

 Daar was ‘n woeste wattlebos so skuins agter die skool, en ‘n donga. Reëntyd het dié plek in ‘n speelparadys omskep. Nat takke en rooi kleimodder. Die seuns in een bende, die dogters die ander. Ons het ‘n leier elk met chin-chon-cha gekies, en dan met olke-bolke-riebietjie-stolke gekies wie eerste die bos ingaan. Die wagspan moes tot twee honderd tel.

In die bos is takke en gras in die voetpad geknoop. Dat die vyand  kan sukkel en val en hulle aankoms verkondig. Dan wag jou bende asemloos met kleilatte vir hulle deurbars die donga in. Joe, so stuk klei het gebrand as hy jou tussen die blaaie tref. So rooi kol op jou skooljurk,  en ‘n blou kol op jou lyf. 

Vanmiddag ry jy angsbevange huistoe. Streepsuiker jou voorland oor jou rooi besmeerde klere. Ma en kouewater Omo sorg na die pakslae dat jy more splinterskon weer die pret kan herhaal. Omdat die lied nie verder gaan, begin ons weer van vooraf aan….

Ag, die sorgvrye dae. Vrydag – ‘n hoogtepunt as jy Bollie, Tina en Patrys by die kafee, dis nou ‘n restaurant, gaan haal. Die middae wat jy wagtend op die bussie  by die gawe tannie op haar stoep, omring met rankrosies en laventel,  gemmerbier gedrink het, en jy verhale van delwers en drome vertel is.

My hart breek vir die suiwer goud van ‘n eens lewendige Pelgrimsrus, verwoes is deur kgopela (gee). Geoffer vir vrybuitery, gierigheid en ons land se gebrokenheid. Dank Vader vir my kosbare onthou – toe regte mense in Pelgrimsrus in geleef het, en ons so in die verbygaan gehoor het die Royal Hotel se kroeg was voorheen ‘n kerk in Mosambiek.

Onthou is beter as die werklikheid. Regte goud. So groot stuk skoongespoel en eg.

3 thoughts on “ Suiwer Goud

  1. Jy het die wonderlikste herinneringe!!! Ek is skoon jaloers. En dankie dat jy my die name van twee van my geliefkoosde tydskrifte gegee het; Tina en Patrys. Dit was sulke heerlike tye, al het ñ mens dit nie toe besef nie.

    Liked by 1 person

  2. Lekker herinneringe van grootword in ‘n plattelandse dorpie. Ek was altyd so jammer vir my kinders wat in die stad (verskillende stede, eintlik) moes grootword. Hoewel ons hulle naweke uitgeneem het na tuine, natuurreservate en strand toe wanneer ons kon, is dit nie dieselfde gehalte tyd van ‘n kind saam met sy maatjies op bekende terrein nie.

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s