best

Galasiërs 6:  7-10
Dit wat jy plant, sal jy ook oes. 8As jy jou lewe gaan inplant op die terrein van die sonde, sal jy die dood as oes ontvang. Aan die ander kant, as jy jou lewe inplant op die terrein van die Heilige Gees, sal jy die ewige lewe as oes van Hom ontvang.
9Kom ons hou aan om goed te doen. Dit is presies wat die Here wil hê. Dan sal ons op die regte tyd ons oes van Hom ontvang. 10Terwyl ons nog tyd oorhet, moet ons elke geleentheid benut om goed te doen aan almal wat op ons pad kom, maar veral aan ons broers en susters in die Here. Hulle is ons bloedfamilie.
Die boodskap bons van oral vandag rond – in my Bybel-App op my slimfoon en my epos:
“Wat plant jy? Wat jy plant sal jy oes.”
‘n Waarskuwing en klag tegelyk. Ek sit en pieker al heel oggend hieroor.
Is dit wat in ons wêreld verkeerd is, is dit hoekom ons almal so oorhoops en oorstuur voel? Oes ons nou wat voor ons geplant is, of oes ons wat ons self geplant het?
Al ooit iets geplant en bossies kom op? Wat plant jy in jou lewe? Wat ons vandag plant het impak op ons lewens, nou en in die toekoms. Goeie goed kan dood gewurg word deur klein jakkalsies.
Ieder geval, ons is groot in die moeilikheid. Ons politieks, mislikepaliteite, ons samelewing in die algemeen is deurspek van ekkigheid, korrupsie, van klakkelose misbruik. Ons eie lewens is vol wroeg en soos iemand blog, vol raserige geraamtes wat maar liefs in kaste weggesteek moet bly.
Kinders is nie meer veilig nie, honderde word vermoor in hulle eie huise. Vroue word verkrag en verniel. Bly jy op ‘n plaas is jou kanse nogal enorm om wreed aan jou einde te kom.
Vanoggend is Gauteng se hoofroetes tot stilstand gebring. Deur taxi’s. Die verkeerspolisie, die polisie, die weermag, ‘n tandlose spul niksnutte wat in hul afwesigheid geskitter het. Die heersers van ons paaie het ons lekker geboelie en gewys wies baas. Geld is baas. Daar is niks respek of omgee vir iemand se lewe, veiligheid of goed nie.
Kyk hoe lelik praat wit en swart en alle kleure van die Reënboognasie met mekaar, op die Vuisboek en die twietplek. Ons politici en leiers stel geen voorbeeld nie.
Daar is nie sprake van Agapé liefde nie, dis maar meestal mangel-liefde.  Oppervlakkige en vals liefde is wat ons vir ons naaste gee. Nie goeie plantmateriaal nie. Gaan nie ‘n kans onder stres staan nie. Gebruik jy jou tyd, talente, kosbaarheide tot God se eer, of eiesug?
Sjoe, die blinde sambok slaan seer. Ek bid vir wysheid om met opregte omgee en liefde te plant en voed waar dit ‘n verskil sal maak: “Here, laat my nie U pad verlaat nie… om U goedheid te ervaar en ook u goedheid aan ander te wys! Maak my ‘n blommeplanter van U liefde.”
plant