Ek kry ‘n missed-call uit Graaff-Reinet. My minister van huishoudings wat my Karoohuis se tuin en die woonstel weekliks versorg.
Met ‘n swaar hart bel ek terug. Het die stoute kinders alweer by die pallisade skade gemaak en my mooi kaktusse verwoes, of venters gebreek? Ons hartshuisie staan juis so halfmas klaar gebou. Die rondloper karnallies is altyd op die stoutwees uit, en gee nie ‘n snars om vir skade maak nie. Of het die woonstel se geyser gebars of ‘n waterpyp…of…of?
Ek is verras toe my Karoo-konneksie vrolik more sê. Ons gaan deur die ‘hoe gaan dit’ ritueel, en ek kan hoor Ness het iets mee te deel. Sy werk by mense wat ons ken so drie dae per week.
“Mevrou onthou vir Boeboe die klein hondjie van R,” vra Ness.
Ek onthou.
Met smaak trek Ness los: “Nou R het vir Boeboe toe ‘n maat gekry – so groot mannetjieshond. Mevrou, hy wil toe mos nou die dag vir Boeboe bykom, en R wil nie dat dit gebeur nie. Die brak is tien keer groter as Boeboe. Joe, ons kry toe Boeboe by hom weg en smyt haar deur die venster die huis in. Jo, Mevrou, maar is daai hond vir ons kwaad. Hy het ons in ‘n hoek vasgekeer, en wil niks weet dat ons die huis kan binnegaan nie. My foun het in sy waterbak beland, en as ek probeer nader gaan, grom hy en wys tande. Ek het naderhand vir R tussen my en die hond gedruk. Mevrou, ek het nog nooi gewiet ‘n boervrou kan so bang vir haar eie hond wees nie! Ons moes twintig minute so staan voor iemand ons kom help het.”
Ek lag dat die trane rol. Net die prentjie – Ness,kort maar lywig, en R – lank en skralerig, ‘n skild tussen Ness en die bronstige hond. Die trane rol soos ek lag.
“Het jy net gebel om my dag op te vrolik Ness?”
“Nee mevrou, met die dat my foun in die waterbak bly lê het terwyl die hond ons aanhou, is dié foun nou heen. R het vir my ‘n Blackburry geleen tot sy die foun kan vervang op die maandeinde. En die goete Whatsapp mos nie, en ek is bang Mevrou dink ek het jou geblok.”
Dierbare Ness, sy sê elke oggend more en elke aan goeienag, daar uit Graaff-Reinet. Sy is op my “Ons glo saam”-deel groepie. Ek sou rerig sleg gevoel het om nie van haar te hoor nie. My oog en my hande daar by my hartsplek. My vriendin.
So lekker dat sy vir my lief is en haar elke dag ook met my deel. Ek klim sommer in die kar en gaan drink tee in die sonnetjie saam met haar en oopbek skaterlag oor haar en R se ekskapades.
Ek wens.
Die voordeurklokkie lui. Terug soutmyn toe met my. Daar is mense wat kaggels soek! Besigheid is besigheid! Tot later!
Oulik
LikeLiked by 1 person
Ons het almal soveel mense in ons lewens wat vir ons omgee, wat vir ons wìl omgee. Ons moet net rondkyk en dit besef. Pragtig geskryf.
LikeLiked by 1 person
Lekker lag ek nou, niks kom tussen ‘n bronstige hond en sy “teef” nie, niks nie…. mense wat hartsmense is/word….
LikeLiked by 1 person