Die dennenaalde en dooie takke het ‘n brosdroë, roesrooi tapyt deur die plantasie gegooi. Dit was winter, brandtyd. My pa was die saagmeulbestuurder by Millsite, ‘n bosbou gemeenskap so in ‘n kom gelê het, omring deur derduisende dennebome. Naby Piggs Peak in Swaziland.
Sondagoggend rustigheid word skril deur die loei van die brandsirene verbreek. Ek onthou hoe my pa telefoon toe drafstap, antwoord, verbleek en my ma nader roep.
Die plantasie reg rondom die woonhuise en saagmeule is aan die brand. Die wind help die vuur vinnig aan.
“Pak ons dokumente en ‘n stel klere vir elkeen, die busse kom vrouens en kinders haal,” gee my pa opdaag.
My ma is net daar steeks. “Hoe gaan jy alleen ons huis beskerm? Ek bly.”
My pa het beter geweet as om terug te praat. Die huise se dakteëls was uit kresootpale gesny en baie vlambaar.
Ons staan binne minute gereed, my swartkop kleutersussie en ek, elkeen met ons gunsteling trooskombers en teddie, en pa se portefeljue met al ons paspoorte, en dokumente bo in ons enigste reistas met ons klere en tandeborsels.
(Ek verwonder my nog na al die jare oor die tandeborsel en ekstra onderklere ding in krisistye. Jy kan alles verloor, jy moet net nie vuil wees, of jou asem moet nie stink nie. Pffft. Ek sou liewer boeke saam vat.)
Ons is huilend in die busse gelaai, my ouers kwaai en gespanne. ‘n Skielike afskeid wat my nou nog by bly. Vyftig jaar later. My hart klop bo in my keel, my trane sluk ek hard aan, want, sê pa en ma ek moet nou sterk wees vir my sussie, vier jaar jonger as ek. Soet en voorbeeldig. My Achilleshiel van kleintyd, die voorbeeld en sterk wees ding.
Ons reis met die meanderende stofstrate van huis na huis. Die vlammesee om ons word verdring deur digte rook. Elke nou en dan skiet vuurvonke die lug in, soos die dennebome ontplof. Oral op die huise se dakke het mans met tuinslange en nat sakke gestaan, om te keer dat vuurvonke die dakke aan die brand sou steek. Klein het hulle teen die rook en vuur se oormag gelyk.
Die busse is gou vol, en ons word by die saagmeule se administratiewe blok afgelaai. Gou is die kantien ‘n kits dagsorgsentrum met geen voorsiening om ontstelde, bang vroue en kinders te hanteer nie. My sussie en ek het ons by ‘n venster staan gemaak, albei weier om na vermanings te luister om nie te kyk nie.
Ek onthou my sussie se klam handjie in myne. Ons kon nie veel sien nie, want die saagmeule het tussen ons en die woonhuise gestaan. Rook en vonke wel. Dit was ‘n lang dag vir ons kindergemoedere, en kan my net indink hoe die volwassenes moes voel.
Teen skemer breek daar oral ‘n gejuig uit. ‘n Oom kom vertel dat die wind die vuur in homself laat inbrand het en dat die gevaar verby is. Een huis se dak het begin brand, en natuurlik was almal van die roet besmeer, my mooi ma ook. Ek het nie omgegee toe sy ons stuyf vasdruk en die swart roet ons ook besmeer nie.
Daar is later uitgevind dat ‘n man wat die vorige week by die meule afgedank is oor dronk by die werk aankom, daardie Sondagoggend reg rondom die woonbuurt en meule gestap het met twee kanne brandstof. Hy het gaatjies in die dromme gedruk, en so met die lekkende houers gestap deur die baie droeë plantasie. Wetende hoe groot die brandgevaar was.
Hoe weet ons? Wel, toe die vuur omdraai, is hy en sy kanne vasgekeer. Hy is deur die vuur wat hy op onskuldige mense ontketen het, verteer. Die dromme nog so in sy hande vasgebrand het ek die grootmense by die volgende braaivleisvuur hoor vertel.
Hierdie belewenis van die groot vuur, het vandeesweek uit die onthouboks gespring toe die berigte van die vreeslike brande in Knysna en omstreke ons bereik.
Daardie oer angs, die naakte vrees, die geweld van naderende vlamme en die suis geluid saam met knetternede vonke, is in my geheue vasgesweis. Mens vergeet dit nie.
Dit en die nuus van PG du Plessis se dood, en die sinnelose moord op Johann Botha, was weer genoeg om ‘n mens uitasem te laat bly lê, hooploos. Maar mens kan nie, en jy moenie, want op jou klein manier kan jy die mense wat soveel verloor het en so seer het, help.
Jy kan bid, en bel en bemoedig. Jy kan aanlyn by Pick’nPay vir iemand kruideniersware koop. Jy kan Montego Hondekos se fabriek bel en ‘n vrag troeteldierkos aankoop wat by die Knysna Direskuiling afgelaai word, direk waar die nood is. Jy kan bly wees jou bank skenk R10 miljoen, al voel jy hulle kan minder bankkoste vra. Jy kan seker maak die berigte wat jy op jou Vuisboekmuur plak en tussen vriende versprei, en daai selfoonboodskappe wat so uitgeketting word – jy kan seker maak dis die waarheid. Maak seker jy weet waar die motorhawe is waar goed afeglaai kan word. Iemand het vir my ‘n boodskap gestuur, toe ek die naam en adres van die besigheid naagaan is dit in Bloemfontein! Rerig, ons woon in Polokwane! Hoekom stuur jy so ‘n sms rond?
Ek ween oor die pragtige gesinnetjie wat deur die brande oorweldig is, op die ou seuntjie se verjaardag. Ek bid hulle is feestelik in die hemel ontvang. Ek huil oor die man van Malawi wie se ou dogtertjie alleen die vlammehel moes beleef en in dit sterwe, dat sy vrou aan haar wonde beswyk het. Hy het maar alles verloor. Sy engele is na aan hom, sy buurman wat self ook alles verloor het – die het reeds vir hom fondse begin insamel. Sjoe!
Ek dink aan die egpaar wat alles verloor het, en reeds ook kanker moet beveg. Ek dink aan die oom wat so groot geskrik het dat sy hart gaan staan het. Die skrik van net die vlamme aanskou genoeg om sy lewe te stop.
Elke vuurslaner, professioneel of vrywillig, elke persoon wat op welke manier ookal help – julle is helde. Julle is wat ons Suid-Afrika ‘n lieflike plek maak.
Daar is soveel brande op soveel verskillende punte wat opeens ooral opgeslaan het, ‘n mens dink onwillekeurig aan brandstigting. Maar daar is kragkabels wat gesteel word, kortsluitings wat gebeur, glas wat in die son lê en ‘n vonk veroorsaak, daar is die stompie-by-venster-uitgooiers. Daar is duisende moontlike oorsake. Feit is hier was ‘n tragedie. Brande soos lanklaas gesien. Die wind het ook lanklaas so fel gewaai. Ons wêreld en ons land en ons lewens is maar flenters en deurmekaar.
Kom ons hou op wie, en wat en hoekom. Kom ons rol moue op en begin deur ‘n bydrae te maak, sodat die mense van Knysna nie slagoffers is nie, maar oorbegin oorwinnaars.
As daar moedswilligheid was, weet net dit: mense het die dade miskien nie gesien nie, maar ons Here, Hy slaap nooit!
Soos daar geskryf staan:
Foto erkenning: https://victoriaaytona.wordpress.com/zenlightenments/fire-water-heart/
Dit moet verskriklik wees om in so ‘n brand vasgekeer te word. Bly om te hoor jou ouers het ongedeerd uit daardie brand gekom… kon so anderste verloop het.
LikeLiked by 1 person
Die stigter se plan was om skade te berokken. Ons ouers was ysters daai dag en die engele met hulle.
LikeLiked by 1 person
Wonder of ek so ewe braaf sou bly. Ysters voorwaar en God se genade.
LikeLiked by 1 person
Jy is sterker as wat jy dink.💝🤗
LikeLiked by 1 person