Op ‘n herfsoggend stap ek buitetoe terwyl die koffiewater kook.  My hondekinders draf op ‘n ry saam. Want  hulle liefie-beenos se blik is onder my arm vasgeknyp. So met die uitstap vang my oog ‘n heldergroen uit-helium-asem ballon op die grasperk.

” Haai wat maak jy hier, en wat is jou storie,” wonder ek terwyl ek dit optel.

Ek besef ons kan klomp stories opdis oor die groen ballon. Is hy wreed uit ‘n kind se hand geruk by die skou deur ‘n onbedagsame grootmens of die wind en is hy huilend gegroet op sy reis deur die lug?  Of is hy met liefde en hoop die lug ingestuur by ‘n partytjie of troue?

My storie is dat hy spesiaal deur wind en son en dou gereis het om daardie oggend vir my te kom sê: “Al is jy uitasem en moeg en seer; Iemand tel jou op en koester jou en ken jou storie soos niemand op hierdie aarde nie.”

Daardie Saterdag het dié groen ballon, lig soos ‘n veertjie, op ons grasperk tot rus gekom, en my aan Emily Dickinson se hoop laat dink. Broos, breekbaar maar altyd daar. Nooit vol vereistes en versoeke nie. Geloof in aksie.

Daarom bly ek hoop

– vir more se nuwe begin

– dat die Zuptas gouer as later hulle paleise in Dubai sal betrek

– dat die ekonomie van oorlog wat ons wêreld uit mekaar skeur, sal tuimel en die aanstigters in hul eie swaarde sal val

– vir ons land en sy mense, dat ons seer en haat sal kan weg bêre, en saam ons gebreekte land kan herstel

– dat mense fokus op wat goed en reg is

– en bid ek vir morele herlewing, dat geen kinders en vroue wreed verwoes en gemoor word nie

– dat wet en orde toegepas en respekteer  word

– dat almal besef, verandering begin by my en jou.