Linkshandige ekke skryf baie lelik. Ek onthou soos gister die Vrydae op Witrivier hoe die ander kinders jillend naweek begin hou as die huistoeklok lui, en ek moet bly sit om skoonskrif te oefen in detensie. Dit was rerig traumaties.
Besmeerde inkleurblaaie en huiswerkboeke. Ek is mal oor my rekenaar en QWERTY sleutelbord – my horisonne is verbreed toe ek nie meer pen in die hand my gedagtes en kennis op papier moes neerpen.
Op universiteit het ek ‘n puik werkstuk ingedien. Die sielkunde prof het my ingeroep. “Jy sou 100% gekry het, net jammer vir daai handskrif.” Kos my toe 5%!
‘n Skêr is ook nie my vriend nie. Ek is geleer om met my regterhand te knip. Jo, my brein buig. Ek konsentreer oopmond-kouend met elke knipslag. Hakkerig, skeef sal lap en papier onder my en ‘n sker se poging uitkom. Ek is gefoeter in die naaldwerkklas tot ek breinaalde ook regs vasgehou het. Skelm naaldwerk huiswerk vir ons huishulp gegee en haar my sakgeld gegee om die monsters te brei en kruisiesteeklappies te maak.
Dit neem my ses jaar om een trui te brei…regtig, dis ‘n ware storie. Die moue is te lank en die lyf te kort. Rots giggel na 32 jaar steeds. Die trui lê agter in ‘n spaarkamerkas as waarskuwing om nie tyd te mors met goed wat jy nie kan doen nie!
Kleintyd het my ouma en ma my liewer uit die kombuis gehou, want sien, met my linkerklou sny ek met skerp messe na my toe. So het ek ook oor tyd moedswillig bedrewe my pad onder kooklesse uit gesny. Mik so eenkeer met die mes by die aartappel of tamatie verby na my borskas se rigting, en ek is vry om bo in die mik van die bloekomboom te gaan boeklees en dagdroom!
Ek het darem langsaam leer kosmaak en kook, maar by myselwers, ek en my linksgeit alleen. Baie mense het al by my geëet, en niemand is dusver dood nie. Ek kan skons maak – die plat soort, koek bak – skeef en krom. Vir my man kan ek muffins bak, en hy kla nie oorlat die skyfies skeef en krom uitkom nie. Hy braai gelukkig meer as wat ek moet kook!
Geleerdes vertel my sus en ek het ons linkswees van ons ma geërf. Maar ons pa se familie is deurspek met links en dubbelhandigheid! So daar gaan ons weer links van die norm.
Verder buite die links norm is dat ons nie in die lente of vroeg somer gebore is nie. My Sus is in Augustus gebore en ek op Oujaarsdag! Linkshandiges is goed in sport. My swartkop sussie was ‘n hokkie-boffin, en het ook goed geswem. Ek. O aarde, toe ek tennis leer speel, moker my linkerrughand die bal tot oor die rugbyveld! My verpligte deelname aan hokkie in laat-hoërskool was bloot omdat ons van graad een tot matriek maar 250 kinders in die skool op Kokstad was! Hehe.
Blykbaar is ons linkshandiges probleemoplossers. Dit kan in my geval die waarheid wees. Bang om in die leeu se bek te kyk, was ek nog nooit nie. So het ek al baie klippe vir baie mense uit die pad gerol en goed gedoen waarvoor niemand anders kans gesien het nie. My daarna links van baie se gevoelens bevind. Nogal snaaks die lewe, as ander se goete op jou projekteer word.
Maar weet jy, links is ek en daar is goeie geselskap – my kunssinnige suster, Albert Einstein, Bill Gates en Barak Obama.
Ander goed oor linkshandiges waaroor ek my maar nie wil uitlaat nie: Ons is blykbaar bangerig, word maklik kwaad, kry gou skaam, hou van drink – jy weet die wyntjies, kan geneig wees tot psigose… o jinne.
Twintig jaar gelede is bespiegel dat linkshandiges boon-op vroeër sal sterf!
Oor en uit voor my brein links foeter.
Hou net links!
LikeLiked by 1 person
Hehe!
LikeLike
Pittige storie, maar ek glo dit is nogal ‘n stryd om aan te pas in ‘n regshandige wêreld.
LikeLiked by 1 person
Ek het menigmaal merke en bloukolle as bewys, maar glimlag is meestal die beter oorlewing strategie 😉
LikeLiked by 1 person
Net so!
LikeLiked by 1 person
Jo! Ek is ook links, en seker omdat my pa skoolhoof was en my ma ń juffrou, het ek niks van jou sleg ervaar nie. Kan jy glo dat daar ń tyd was dat hulle ons so geboelie het oor ons ‘afwyking?’ Ek is seker jou kos proe net so lekker soos die ‘ander’ s,n.🌷
LikeLiked by 1 person
Nog ‘n rede om van tannie Erna te hou (dis nou behalwe die goeie skryfwerk :)): ons is albei links!
LikeLike
“Birds of a feather…”
LikeLike
Hotkloue is hot – of in jou geval lekker vurig! My pa wat skool toe gegaan het in die 1930s het pak gekry totdat hy regs kon skryf. Hy beweer hy het by die werk geskryf met die hand wat die naaste aan die pen was.
LikeLiked by 1 person
Ek het ‘n skoolmaat gehad wat regs gefoeter is en behalwe die lelike skrif nog stotterend die lewe moes deur!
LikeLike