Die ou wêreld is ‘n harde plek met ‘n baie slegte CV. Die mensdom se rekord in genade , barmhartigheid en vergifnis is maar skraps.
Die tref my weer hard gisteraand toe ‘n advertensie vir die DSTV-History-kanaal oor die skerm flits. Oorloë, gierigheid, slawerny, korrpupsie, maglus is deel van die gebreekte mensdom se storie sedert Abel en Kain. Ja, Adam en Eva en Abel en Kain was die oorspronklike disfunksionele gesin as jy mooi daarna kyk.
Ek is besig met oplees oor genade, barmhartigheid en vergifnis, want ek sukkel met mense in my lewe wat, al het ek my bes gegee, nie gelukkig is met my nie.
Dis swaar om goed toegedig te word en vermy te word, as jy voor jou siel weet die aannames oor jou is nie waar nie. Seerder nog is wanneer jy besef, die situasie gaan eintlik nie oor jou nie, maar eerder werk wat ander aan hulself moet doen.
Maar hierdie is ook gevaarlike grond om op te beweeg, want nie een van ons is volmaak en sonder foute nie. Ons is maar almal mens en vol swakheid en tekortkominge en skiet ver te kort as ons voor God kom staan met ons leë hande en harde harte.
So lees ek dat, as jy jou bes probeer het om askies te sê as iemand geaffronteerd voel, hetsy jy nou skuldig is of nie, en die persoon klou aan die gewaande oortreding en wil nie aanbeweeg nie, mag jy maar aanbeweeg. Of die persoon bloedfamilie, ‘n goeie vriend of kennis is. Laat los, loop weg, stel grense. Jy het genoeg om aan te werk vir jou eie sieleheil.
Dit tref my dat tensy jy voor God ware berou het, geen skuld van jou afgeskryf sal word nie. Maar as jy eers God se vergifnis aanneem, niks, nie eens ander se mening, verder teen jou gehou sal kan word nie.
Ek lees ook toevallig oor iemand wat nie meer glo nie. Dat die persoon dink die Bybel is mensgemaak. Ek huil vir soveel seer en aspris verarming van siel.
Die televisiereeks The Good Wife is ‘n gunsteling van my. Alicia wat in ‘n politieke huwelik sit en die trofeevrou is, haar lyf en hart behorende aan ‘n man wat nie betyds besef dat sy is die liefde van sy lewe nie, sy dood het hom eerste gekry.
Alicia se dogter is Christengelowig. In die harwar van Alicia se lewe is Grace ‘n baken van sekerheid en steun. Selfs haar naam, Grace beteken genade. ‘n Hawe van rustigheid en wysheid vir die klaarblyklike sterk vrou teen wie die lewe alles gooi.
My gunsteling episode is seisoen 6 episode 3 – Julie 2015. Grace en Alicia het ‘n gesprek oor God en die skepping. Alicia vra vir Grace of sy alles glo die skepping in sewe dae, Noag, die toring van Babel, die hele kaboedel.
En Grace met haar bruin bokkie-oë sê rustig dat sy nie weet of dit alles histories korrek en bewysbaar is nie, maar dat sy oortuig is dit kan op ‘n ander manier die reine waarheid wees.
Alicia se wenkbroue spring verbaas teen haar voorkop op. Watter ander manier vra sy?
“Wel, poëties kan dit waar wees, al is dit nie akkuraat nie. As ek jou wou laat onthou dat God alles geskape het, sou ek waarskynlik vir jou ‘n storie vertel van hoe alles in sewe dae gebeur het. Dit beteken nie noodwendig dat dit werklik in sewe dae gebeur het nie, dit betekn net dat ek wil hê dat jy moet onthou dat God alles geskape het.”
Nou ek trek hierdie woorde deur my hele belewenis van die Bybel. Dit is stories vir my en jou, deur eeue bymekaar gemaak om ons die maatstaf te gee om reg voor God en regverdig teenoor mekaar te lewe. Verhale Goddelik geïnspireer om ons te lei om die beste selwe moontlik te wees.
So vir die mens wat niks meer glo nie – ek bid vir jou. Jy ken my nie, ek gaan beslis nie dat jou woede my laat wegkyk van die een vastigheid in my lewe nie. Want kyk hoe oordeel jy ander, wie sê jy is reg? Sê dan liewer niks oor ander mense nie, en leef jou eie heil uit. Vat jou ewige kanse met jouself, hou op om ander te oortuig jou idees is reg.
Vir eie-mense wat my in oordeel hou, wie deur my bestaan geaffronteerd bly voel, vir die wat reken ek bly die sondaar: Ek is vergewe vir die goed wat ek in my lewe verkeerd gedoen het, ook vir dit wat julle reken ek so vreeslik gesondig het.
Jou vermyding van my en my gesin, jou stilswye, jou skimpe op sosiale media – dis jou aksies. Ek is lief vir jou. Ek respekteer jou besluit om my beste pogings tot ‘n goeie suster/niggie/vriendin te wees, as nie goed genoeg te ag nie. Ek het in my vergifnis die reg gekry om aan te beweeg, in liefde.
NS. As jy sou wou – maak kontak, my nommer het in vyftien jaar nie verander nie en my meubels staan steeds by ‘n bekende adres.
Jou hele skrywe is sò na aan my hart. Ek be-aam wat jy sê met ń amen.
LikeLiked by 2 people
Net jammer party mense maak genade so goedkoop, hulle vergeet elke hou, elke skel als het met ‘n duur prys gekom, en juis daarom mag ons genade nie staan en goedkoop maak nie!
LikeLiked by 1 person