Dit was toe vandag

My dierbare Rufus en liefste Seuntjie

Al ‘n lang ruk, ‘n jaar om die waarheid te sê, weet ons hierdie dag sou kom. Die dag wat ons moet laat gaan. Die dag wat julle julle laaste botterbroodjie kry, die laaste keer dat julle in die kombuis wakker word, die laaste dag van lusteloos staan voor die kosbak, die ure se bly lê, die nie meer sien en teen alles vasloop. Die laaste rit saam in dorp toe, ons laaste oomblikke saam by die veearts.

Ons kon hierdie dag nie keer nie, want ons het julle belowe dat julle waardigheid en gemak die belangrikste is. Ons behoeftes aan julle s’n ondergeskik. Om my seer te besweer daarom hierdie brief:

My dierbare hondekinders.

Dankie, dat julle ons lewe verryk het. Dat julle ons onvoorwaardelik lief gehad het, ons vertrou het en ons soos goud opgepas het.  My hart is stukkend, maar ek weet ook dis beter dat julle nou by die ewige huis vir ons wag. Saam met Miss Mandy, Cindy, Waaksaam, Pippie, Frikkie, Natasha, Patricia, Jumbo, Witvoet, China en Toontjies. Al die viervoete wat spore in ons lewens gelaat het.

Rufus, al het jy dikwels Shrek se was in jou ore gehad, was jy die liefste, uitbundigste en terglustigste van jou hondeboeties. Jy het reg tot in my siel se wegsteekhoekies kon kyk. Dankie dat jy saam met my wyn-ys gedeel het. Ek gaan aande op die stoep mis. Dankie dat jy met ‘n smak van jou bek altyd gewys het wanneer ‘n bederfhappie vir jou lekker was.

Wat ek ook nie sal vergeet nie is: Dat jy die leer ottoman as joune opgeëis het. Dat jy niks gekou het en nooit ooit in die huis gepiepie het nie. Dat jy saam met ons koffie en beskuit kom eet het, vanoggend vir oulaas. Dat jy gister nog op die naat van jou rug, my plek op die bed kom opeis het.

Dankie dat jy al die slange vir ons uitgewys het, ons kom roep het as daar fout was. Hoe trots jy was as jou mens pa die slang doodgemaak het en jy lyf swaaiend saamstap om die ondier weg te gooi.

Onthou jy toe jy die dag die ystervark vasgekeer het en vol penne ons kom haal het om te wys waar die gedierte is? Hoe gefrustreerd jy was tot ons by die turksvye uitgekom het!  Hier, hier het jou lyftaal gewys. My Boenoes, die penne wat ons uit jou gehaal het staan in ‘n bak, in ons kantoor. Ons sal nie vergeet nie.

Ek kon nog nooit avokadopeer eet sonder om te onthou hoe dodelik siek jy as babahond was omdat jy die goed skil en pit en al opgevreet het, want jou Seuntjie boetie suig dan so lekker daaraan.  

Ja my ou Rufus, jy het net ses motor ritte gehad, elkeen epies – toe jy saam met Rots weg van jou ma is om ons s’n te kom word, drie keer vir siekte, verhuising – een keer, en vandag die laaste keer – veearts toe.

Ek sal nie vergeet hoe jy my in die oë gekyk het toe ons by die veearts uit geklim het en rustig saam gestap het, gestaan het om die verkeer te aanskou, die son vir oulaas op jou lyf. Waardige ou yster, jy het toegelaat dat ons jou op die rooi kombers laat lê, met jou tjommie van baie jare net langs jou. 

My Liewe Seuntjie, my uitskot brakkie – die lelike enetjie in die werpsel met die oorbyt, perfek vir ‘n bal, en aandag afleibaar soos min. Jy met jou half stom blaffie wat tot die beeste laat wonder het. O, jy was darem lief om by ons koppe op die kussing te slaap, jou ingewurm op die kleinste plekkie om net by ons te wees. Daai spoggerige spierwit stert wat jy so rond kon swaai. Hoe jy die ander boeties se speelgoed versteek het. Hoe jou ronddra van jou kos ons soos ouers met Lego in die huis laat voel het. 

Jy wat jou boeties leer sokker speel het. Onthou sal ek vir ewig daardie dag in 2010 toe jy soos ‘n  Beckham en Messy daai wit en swart sokkerbal die grasperk vol beheer het, tot die ander se frustrasie. Dat geen bal van enige grootte of vorm jou baas was nie, dat jy tennisballe deurgekou het en sokkerballe laat afblaas het. Laduma!

My dierbare ou keffertjie, wat altyd geraas het, al het jy die besoekers reeds nou net verwelkom. Ek gee ook nie om dat jy  liewer vir kuiermense was as vir my. Die kuiermense het darem weggegaan, dan was dit ons.

Ou Seuna, ek is ook nie kwaad dat jy merke gemaak het en jou Yorkie boeties dieselfde geleer het nie. Die ‘pro-biotic’ sproei maak korte mette daarmee. 

Ek gaan mis hoe jy by die tafel, om net tog eerste aandag te trek vir die botterbroodjie en oorskiet vleisie, pen-orent kom sit, asof jy voorheen ‘n meerkat was. Hoe jy soos ‘n wafferse brandwag op die stoele se rugleunings geklim het en by die deur uitgetuur het om seker te maak ons word nie onverhoeds betrap nie.

En ja, karnallie, ek weet hoe dikwels het jy sommer buite gaan blaf het, dat die ander net kon uithol, sodat jy die beste plek op my skoot kon kry. Koda gaan mis dat jy sy speelgoed so versteek dat hy heeldag daarna soek! Oscar gaan mis om by jou lepel te lê. Ag hoe besef ek nou jy was die baas van die bende!

Ons huil, en sal nog baie lank oor julle rou, maar ons bid dat daar waar julle vanoggend bygekom het, daar reuse grasperke is en sokkerballe. Dat albei van julle sterk en vry en vrolik is.

Die volmaakte ewige Rufus en Seuntjie. Speel lekker en onthou ons. Sê groete vir die ander tot ons julle weer sien. 

Liefde

Julle mens ouers en sussie 

NS. Daar is mense wat sal opinies hê dat ons nie reg gemaak het om ons twee bejaarde honde vanoggend te laat uitsit nie. Elkeen het reg tot sy eie mening.

Ons is tyd geleen met Rufus, wat ‘n jaar ekstra tyd gegun is en soos goud opgepas is sedert die veearts verlede jaar kankervergroeisels uitgesny het, en  vir ons die x-strale van sy heupe gewys het. Geleende tyd, dit was dit. Ons ou Seuntjie – het blind geword, gestress en tjankerig as hy teen alles vasloop.

Vir wat en hoekom sal mens nou hulle deur lewende hel wil sit? Oor jou hart gaan breek? Nee wat, hulle het ons te veel van onvoorwaardelik liefhê geleer om nou aan eie gevoelens en gemis te dink.

Ek lees vandag “Euthanasia is often not so much a question of artificially ending a life, but of determining when to cease arifiially extending a life.” Sela.

Ons gesin gaan hulle twee se lewens saam met ons vier, en vir altyd onthou. Hulle was kosbaar.

 

 

16 thoughts on “Dit was toe vandag

      • My Boeta is in die hospitaal opgeneem oor sy hart, so jou skrywe het my gehelp om te huil. Ek sukkel daarmee; skakel liewer af as om emosie te wys. Ek vermoed my ma karring daar in die hemel dat haar ou seun ook moet huis toe gaan. En ek verstaan dit, en sal ok wees daarmee. Hy is al oud vir sy kondisie. Maar steeds. Ek is bang vir wat kan voorlê. So, my hart treur regtig saam met julle groot verlies.

        Like

  1. En die trane rol hier waar ek sit want dit vat my terug na my eie wat ook verlos moes word doodeenvoudig oor “hondejare”, wat “wreedworddae” geword het. Ek is een van “daai” mense wat my hondekinders baie liewer het as, kom dat ek rou eerlik wees, mense het. Nie sommige mense nie, mense punt. Ek kon jok sodat dit sagter op die oor klink deur te sê, ek het my hondekinders liewer as sommige mense, dit is nie so nie…

    Liked by 1 person

  2. Ek is al ‘n paar keer hierdeur en verstaan jou hartseer. Ons laat ook nie toe dat ons diere in pyn en siekte leef nie, hoewel jou hart wil breek by elke afskeid. Later, baie later, sal jy merendeel die vreugdevolle dae begin herleef, hoewel die hartseer altyd bly.

    Liked by 1 person

  3. Hier sit en huil ek vir en met jou dat die trane loop. Geen mens wat waarlik vir diere omgee, kan jou verkwalik vir die klipswaar besluit wat julle geneem het nie. Hou vas aan die wete dat dit inderdaad ‘n genadedood vir hulle was.
    “Euthanasia is not so much a question of artificially ending a life, but a (heartwrenching) decision of of determining when to cease artificially extending a life (of suffering).”
    Ek dink in dié opsig is troeteldiere in ‘n beter posisie as sommige mense…

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s