Ken jy daai dae wat die bollie die waaier tref? As die elke dag se oorlewing en gemoedsbekakking tot die mag drie jou na Putsonderwater lei, en jy weet, hier moet jy nou verby? In die lewenstuimeldroër gesmyt en die siklus word elke vyf minute verander? Jy voel soos die besem en stof tegelyk!
Ons is midde-in so fase, my gesin en ekke.
Rots het verlede week sy beursie met bestuurderslisensie, geweerlisensie, identieteitsboekie, kredietkaarte, bankkaarte verlê. Ons noem dit maar so, want ons weet nie waar die insident sou plaasgevind het nie, en ons weet nie of ‘n opportunis iets met die verdwyning te make het nie.
So, in die hel van burokrasie en swak diens moes my arme man spring. Sewe ure by binnelandse sake, met slegs die sekuriteitswag wat behulpsaam is. Hy oorleef dit en het darem nou ‘n tydelike Identiteitsdokument.
Die volgende dag is dit die oggend by die bank, meer as 108 bladsye moet ingevul en geteken word, want die rekenaar wil nie die begunstigdes van die ou profiel na die nuwe oorplaas nie. Die pragtige vrou help die gryskop omie te mooi.
Moedig pak hy die lisensiekantore by ons stad se Mislikepaliteit aan. Hy word dokumente in die hand gestop en beveel om in ‘n kamertjie agter in die ry te val, toe hy by die toonbank kom, 45 minute later, snou die klerk hom toe dat hy in die verkeerde ry is. Omdat die lied nie verder gaan, begin hy weer van voor af, agter in ‘n volgende kamer se ry.
Toe hy ure later by die motor uitkom, besef hy met ‘n skok dat hy die swart vouleêr met al sy nuut-verworwe tydelike dokumente iewers laat lê het! Gelukkig vir hom het ‘n gawe toetsbeampte dit veilig gehou!
Sommer net moedeloos, want sien, Rots moet ook nog lam ter slagting hospitaal toe. Maandag gaan hy geopereer word. En die mediese fonds wil nie noodsaaklikhede per die spesialis se kwotasie goedkeur nie.
Teen gister se einde toe ons boekhouer ons ook vra om papiere vir SARS te teken en die belegging maatskappy my ondervra oor hoekom ek geld wil onttrek, en twee kliënte basies vir ons vertel hoe ons ons produkte aan hulle moet verkoop, toe kook die gemoedere oor. Daai aaklige ‘daar is iemand in jou binnekring dood’– emosie oorweldig ons albei.
Toe ry ons baie stil huistoe en gaan braai ons maar en skink ‘n glasie so op die Dinsdagaand. Raak rustig en kry ‘n goeie nagrus in.
Vanoggend uit Fillipense 4 Die Boodskap, praat ons Vader reguit met ons:
“4Julle hart behoort oor te loop van blydskap omdat julle aan die Here behoort. Ek sê weer, julle moet baie bly wees. 5Moenie vergeet om almal mooi te behandel nie. Die Here kom mos binnekort terug.
Rots en Bab voel ook so.
Ons is reeds halfpad deur vandag, en steeds is klomp goed in die lug en nuus oor die bybetalings vir die operasie is sleg en ons sien net hier en daar lig. Maar dis alles onder beheer, want daar is waarlik ‘n vredigheid oor ons wat alle verstand te bowe gaan!
Wat ñ heerlike stuk skrywe het ek nou hier by jou kon lees! Jy het my gemoed opgelig, so met julle deurmekaar wêreld en al. Want saam met ons Vader kan ons alles hanteer. Dankie vir die herinnering aan die skrif. Al gaan dit rof, julle stap heerlik in oorwinning. Sterkte.
LikeLiked by 1 person
Ai tog! It never rains but it pours. Ek hoop dit gaan goed met die operasie.
LikeLike
Eina pyn, hoop als is darem nou weer onder beheer.
LikeLike
Ek hoop teen die tyd is al daardie jakkalsies uitsorteer💙
LikeLiked by 1 person
Danksy swak mediesefonds en oorkwoterende mediese verskaffers is die operasie uitgestel en Rots is op vergelyktog soekend na nuwe mediese dekking. Die res het hy oorleef, behalwe die geweerlisensie – die sal annerdag se tuimeldroeë wees, lyk dit vir my! 😉
LikeLiked by 1 person