Ek blaai so deur Vuisboek, en kom af op ‘n blad wat reeds in 2016 sewe goete van die voorjare, wat jou dadelik oud sal laat voel, weer plaas.
Liewe Heksie, Pumpkin Patch, Walkman, Brenda Fassie se ‘Weekend Special’, Mango Groove se ‘Special Star’, M-Net oop kyktyd en David Kramer met sy rooi vellies en die Volksiebus.
So dink ek terug. Die uitstaande ene op die lys vir my is Mango Groove. ‘Special Star’ – nuwe hoop vir ons land. 1991, daar rond.
Ek het pas werk gekry as een van die skenking-afbidders in ons gemeenskap. Deel van die top drie organisasies in die stad wat pas 100 geword het. Ons was vroue wat ys aan Eskimos kon verkoop. Kinders, gestremdes en kanker bevegting ten bate van.
Hier in die hoofstad van die destydse Verre-Noord Transvaal, was mense met ambisie, oop harte en beursies. Die ysters het ‘n sesbed hospitium vir die Kankervereniging opgerig. Destyds al ‘n R1,2 miljoen projek.
My voorganger was die hart en siel van die tak. Haar man moet na Pretoria verhuis. Haar pos is beskikbaar. Ek word genader. My pos as streekskakelbeampte vir Oom Chubby Checkers, het my ten nouste met gemeenskapsorganisasies laat saamwerk. Hulle het gevra en die winkel net om die hoek het my toegelaat om verskaffers te boelie tot almal geholpe geraak het aan kos, klere, wat ookal.
Ek was baie gelukkig in my werk. Tot Whitey en Meneer Wiese ons winkelgroep ingesluk het.
So word ek toe deel van die professionele bedelbende. Die pragtige kompleks is pas ses maande oop, en ek besef dat die goedbedoelde projek het een groot probleem. Niemand het onthou om die geldboom te plant. Daai een wat jy net soggens skud, en dan waai die R100-note by die voordeur in, en alle behoeftes word aan voldoen.
Die jaarlikse begroting was enorm. Die plek is nie as hospital geregistreer nie. Om dit reg te stel, moes die plek toegemaak word. Dit beteken mense kan nie werk nie. Verpleegsters word afgelê. My reputasie as koudbloedige heks kry ‘n hupstoot.
Ek stap een oggend in my kantoor in. Onder die plastiektapytbeskermer is ‘n papier. My voorganger se petite nommer ses voetjies is daarop afgetrek. “Dié skoene moet jy volstaan,” die boodskap in rooi pen daarby. Ek dra ‘n nommer agt, skryf ek in blou en gaan plak dit op die kennisgewingbord…
Daar is baie druk om vinnig fondse in te samel. Die hoof omie van die KV kom kuier. “Wat gaan jy doen, wat gaan jy doen?” Asof ek ‘n gans is wat goue eiers lê. Ek wroeg en dink. My gesinslewe bestaan nie, dis net tee en toesprake en vrywilligers, komiteevergaderings en die hospitium met sy ses beddens, elkeen met ‘n trapleer hemel toe.
Ek het voorheen twee suksesvolle trollie marathons aangebied en gehelp om derduisende rande in te samel. Maar onthou ek het dié winkel net om die hoek en ‘n begroting agter my gehad. Dit was verspotmaklik om goed groot en reg te doen. Skielik met die ander kant se skoene aan, was geldinsamel ‘n wrede meester.
Ek laat my boelie om ‘n buitelugkonsert aan te bied. Dit sou op die skouterrein plaasvind. Die skouterrein wat onaangenaam koud en winderig is – heel jaar lank.
Ons huur Mango Groove. Ons druk 10 000 R20 kaartjies. Ons bemark op al ses die streek radiostasties. Daar word vir die veraf, meestal swart gemeenskappe, met ‘n busdiens reëlings getref om dit maklik bywoonbaar te maak.
Ek ignoreer politiek, ras. Ek maak net somme. Optimisties en kinderlik vertrouend. Kaartjieverkope vorder. Maar Suid-Afrika kook en borrel. Die week van die konsert jaag die AWB in Nylstroom, die ANC die straat af, mense is omgekrap oor ras, die toekoms. Maar Mango Groove is teen R75 000 gehuur. ‘The show must go on.’
Ek onthou die klanktoets, ek onthou die hol kol op my maag. Hulle oefen ‘Special Star,’ ‘n yl ry motors draai af skouterrein toe, die son sak, dis koud en die wind waai. Rots kry my waar ek hoopvol die grootpad dophou, vir die busse vol mense, wat nooit opdaag nie. Net meer as 2000 mense geniet hulle gate uit en Mango Groove sing hulle harte uit. Dié geldboom het nie eens gebot nie.
Ek sukkel vandag nog met die pragtige liedjie. Daar was na die flop R100 000 wat afgewerk moes word. Hard geval en nerfaf, leer ek dat in welsyn en gemeenskapswerk, daar net een manier is om suksesvol te wees. Dis met baie geduld en asseblief en baie dankie. Daar is nie kitssukses of vinnige winste te maak nie.
Ek het oor tyd formidabel bedrewe in asseblief en dankie geraak, en vir bykans tien jaar die projek suksesvol bedryf. Tot ‘n tuinier, verpleegsters en ‘n rol toiletpapier die strooihalm geword het wat my kameelrug geknak het. Maar dis ‘n ander storie.