bevrore ertjies

Rots en ek is op die aanloopbaan van oudword. ‘n Nuwe era in ons lewens het aangebreek. Ons is skielik die ouer mense in ons kring.

Ons besef dat ons die houers van die geskiedenis aan vergete geslagte is. Maar die laslap kombers van ons voorgeslagte se lewens aanmekaar geweef is yl en motgevreet. Die jongklomp gaan hulle eie gang en ons spandeer baie tyd alleen saam. Ons twee en die brakke.

Ons het aan sy kant van die familie nog net ‘n kinderlose tante as verbintenis tussen ons en die vorige geslagte.  Aan my kant, ‘n bejaarde eie tante en -oom wat hulle weergawes vir hulle self hou, en dan ander familielede wie hulle eie weergawes bo ander familie s’n verkies. C’est la vie.

Ons onthou van stories van waar ons vandaan kom is yl, die stiksel kom los op plekke, en ‘n paar blokke het al weggeval. Ons onthou is dan ook maar tipies menslik selektief en subjektief.

Maar ek wil nie vandag oor voorgeskiedenis en families griffel nie.

Ek wil vertel van bevrore ertjies, en hoe ons nie ouer word wil hanteer nie.

Ons het nie een nie, maar twee keer met bevrore ertjies te doen gekry. Albei aan my skoonouers se kant van ons saamgestelde familie. Een vrou was ons geliefde Biebs se grasieuse, eksentrieke suster. Die ander ‘n elegante skoonsuster.

Kort na ons Frida Kahlo tante weduwee geword het, het my dienende Martha skoonma, in haar rooi Gholf die pad Pretoria aangepak het om haar suster by te staan. Sy kuier ‘n week of wat, en kort na haar terugkeer bel sy oudergewoonte Sondagaand net na Carte Blanche ( Altyd net as die fliek begin, in die dae voor PVR). Rots antwoord, Biebs doen verslag oor die hele familie – sy was die gom wat ons almal aanmekaar verbind het.

Ek lei af dat sy omgekrap voel, en ek hoor Rots iets van bevrore ertjies sê. Na die oproep, en die fliek vergete, vertel hy dat ons tante sommer ‘n handvol bevrore ertjies uit die vrieskas gryp en dit as ‘n ete beskou! Dis mos kos, reken die nuwe weduwee, en daar is nie skottelgoed of moeite nie. In elk geval is sy alleen, hoekom sal sy moeite doen?

Ons sit en herkou aan die nuus. Biebs is al jare alleen. Sy maak elke dag kos – vleis, rys, groente. Daar is hordes Tupperbakkies met enkelporsie groente, vleis, sop in haar vries- en yskas. Sy bak en kook en op tagtig het sy nog vir die mense in die ouetehuis help kos maak! Niks te veel moeite nie. Voluit. Daar was mense twintig jaar haar junior in die ouetehuis!

Ons koop ‘n huis in Graaff-Reinet en wil vir Biebs gaan wys. Haar seën op ons Karoo-droom was vir ons aller-belangrik. Ons oornag op Bloemfontein, sodat sy haar aangetroude skoonsuster kan sien.

Ons bly in die oulikste gastehuis, met ‘n braaiplek. Die Bloemfonteiners kom kuier by ons. Dis ‘n heerlike onthou-kuier, tot dié weduwee-tante vertel hoe sy haat om haar kombuis vuil te maak net vir haarself. Sy eet sommer ertjies uit die vrieskas, dan bly alles netjies.  Biebs is sommer op die plek omge-ellie. Dis nie hoe jy na jouself kyk nie!

Dis toe net daar dat ons begin dink aan wat ons gaan doen as ons ouer word.

Beslis nie bevrore ertjies nie! Ons twee maak doelbewus moeite om lekker en interessante kos te maak. Al is net net ons twee, en ons belowe mekaar plegtig dat wie ook al alleen sou moet bly, ons Biebs se voorbeeld sal volg.

Nie die sitkamer ‘n wagkamer vir die ewigheid maak nie. Nie gaan sit en van ons lewe ‘n afwagting maak vir die dag van ons hereniging met ons voormense nie.

Nee, saam of alleen: ons gaan die kombuis vuilmaak, in die sitkamer lag en daar buite lewe en nie ophou droom nie. Pyne skete en alles wat met ouer word gepaard gaan, ons gaan die pad voluit loop.

Ons eet Eisbein vanmiddag.