africanwormwood

Artemisia afra. Wilde Als. Umhlonyane. Lengana.’n Aromatiese krui. Uniek aan Suid-Afrika.

In Europa is sy boetie Artemisia absinthium, Wormwood, verban. Gebruikers of liewer misbruikers, het erg aan krampe en senustelsel skade gely. Suid-Afrika se Wilde Als is gelukkig anti-inflammatories, antisepties en ‘n anti-depressant.

Dit maak sinusse skoon, raak van wurms ontslae. Dis ‘n kuur vir verkoues, oorpyn, rumatiek, jig, reiniging die bloed, en daar is ondersoek na die plant se vermoë om ‘n impak op tuberkulose te hê. Dit is ‘n pynmiddel. Dit hou vlooie weg. ‘n Wonderkuur.

Vandag het iets gebeur op ‘n plaas genaamd Wilde Als. Net buite Bloemfontein. In die middel van die Republiek van Suid-Afrika.

Dit kan nie in ‘n kiekie vasgevang word nie. Die drie kruise op ‘n koppie, 600 luidsprekers, die logistiek van 200 000 voertuie, vliegtuie,  helikopters en mense te voet.

Duisende en  duisende mense trek op Wilde Als saam. Om te bid. Om ‘n kuur af te bid vir ons land en sy mense.

Toe die oom met die hoed bid, waai ‘n warrelwind stof op. Ek glo net soos die eerste bekeerlinge dat God se hart bly was en Hy met die wind oor die skare, Sy genoeë gewys het.

Kyk: https://m.facebook.com/story.phpstory_fbid=789797927842912&id=255425007946876

Daar het op Wilde Als iets besonder gebeur. Nie ‘n kits kuur nie. Maar miskien die begin van ‘n ommekeer.

Dink net, as ons almal vandag ge-wilde als is, gereinig, skoon gemaak.   As ons more uitreik na mekaar. Nee sê vir dis-respek,  omkoop, gierigheid, korrupsie, selfsug.  Ge-wilde als.  Gereinig. Ontsmet.

Ek is vol hoop, maar my wilde als het luise…

“Wilde Als moet gesnoei word,” lees ek in my kruieboek. Daar is werk om te doen.

Laat ons dan nederig wegstap van Wilde Als, Bloemfontein.

Gesnoei aan ego, eie-belang.

Genesende en geneesde wilde alse.

Vir God Drie-enig, in ons vir jou, Suid-Afrika.

Dis tyd.

Lei ons Here.