Dit is Paasnaweek 2017 se Saterdag. Rots en ek hou vrottiedag.
Ja, ek sit nog in my pajamas hier en skryf. Ons het flink opgevlieg en self vrieskas skoongemaak, want dié lyk soos ‘n rooilighuis op ‘n Saterdagoggend. Jy weet, lekker deurmekaar en oes.
Ons het brekfispap met lewer en niertjies vir laatoggendete geniet. Vir ons vyf brakkekinners bederf met pap en Montego-sous. Ons almal se magies span so styf om die lyf. Dit het weer begin reën, na gister se 40mm.
Ek is dankbaar bly vir so baie seëninge, en wil vir my Rots verras. Iets buite my geaardheid doen. Ek wil koek bak. Dis raar, glo my.
Die resepboek val oop by Adelaide se sheetcake.
Kom ek vertel:
My skoonmoeder, Biebs, was ‘n flukse, flinke, vietse vrou. Uit haar twee hande is liefde in borde kos, fyngebak, koekies, beskuit en nog baie meer opgedis.
Sy het elke kind se voorkeure geken. Tot haar skoondogters. Daar was niks lekkerder om skelm met ‘n eetlepel die bak gestoofde perskes in die yskas te beroof nie. Asof sy nooit geweet het ek doen dit nie.
Vir die een boet is daar altyd Dirkie kondensmelk in die yskasdeur. Vir die ander, biltong en droëwors in die broodblik. Vir ander witkoek.
My skoonma vang my met Bab se vierde verjaardag uit. Sy kry die kitskoekmengsel se boks in die asblik.
“Skaam jou,” verwyt sy my, die beroepsvrou skoondogter. Ek stotter en lag maar, en sê Bab kon Nommer13 by die tuisnywerheid se koek gekry het. Ek het darem eiers geklits, en gemeng en die oond aangesit.
Die boksiekoek word ‘n groot spottery. Sy giggel en praat van sheetcake wat ek bak. “Ma, jy praat lelik met daai vroom mond”, spot ek terug.
Nie lank na Bab se verjaardag, kom kuier Biebs weer vir ons. Sy bring vir my ‘n resep – Adelaide se sheetcake.
Ek was gewip. Het hom net so in my resepboek geplak. Nooit gebak nie.
Dis nou jare later lê die resep voor my oop, en my skoonma is al vyf jaar nie meer by ons nie.
Ek mis haar, my skoonma. Ons twee het aan mekaar geskuur tot ons mekaar se “ek het jou”-plekke mooi gemaak pas het.
My skoonma, my ma. Ek is lief vir haar. Sal altyd wees. Sy het my veel langer as my eie ma geken. Sy het my hakieshart verstaan.
Biebs, die sheetcake resep werk mooi. Jou seuntjie laat weet die kinners op WhatsApp dat die antie sheetcake bak, en dit reën en reën. Is dit jy wat lag dat die hemel so oorloop? Lief jou.
NS. Die resep werk so goed soos Biebs gesê het. Een smeriger lekker is by die skakel te vind:
http://thepioneerwoman.com/cooking/the_best_chocol/
Wow, dankie vir hierdie resep. My man sal dit waardeer. Ons gaan Woensdag “dorp toe” om kosvoorrade aan te vul en kakoa is nou op my lys.
LikeLike
My plesier. My Rots het nou net in die sheetcake ingevaar. 😉
LikeLiked by 1 person