getoor

Vandag is my hartedief MM al ‘n hele week oud.

Vir nege lange maande het ons saam met haar mamma, pappa en boetie, opgewonde vir haar gewag. Ons het so baie met haar gepraat, van haar gepraat en vertel hoe ons haar gaan bederf.

Verlede Donderdag kom MM met tien tone en tien vingers en die langste bene vir so kleine mensie, ons lewens binne.

Omdat my eie kind nog enkellopend is, kom ons nie gereeld  in aanraking met swangerskap se vordering en gevolge op ‘n daaglikse basis nie. Ouma- en Oupaskap is, met ons lang-afwesige skoonseun, nie deel van ons huidige bestaan nie.

So, toe ons kind se boesemvriende weer swanger raak, was ons in ekstase.

Ons het die sonars saam beleef, ons het moedertjie se “garage-paai”-verslawing geniet, om nie van die lus vir brood, brood en nogmaals brood te praat nie! Ons het baie gelag en gehuil oor al die op en af wat die twee kinders,  met boetie wat sopas een geword het, beleef. Hoe hulle ‘n groter huis moes koop, hoe daar vir MM se koms beplan word.

So het ons elke dag saam gestap. Ons moes onsself beteuel om nie inbreuk op die pop se eie oumas en oupas se plek in die ry, te maak nie!

Maandag jaag Rots en ek so tussen werk gou om te gaan inloer. Om MM te ontmoet.

Onbeskryflike vreugde en liefde en tederheid spoel oor my. Ek het laas so gevoel toe my eie kindjie die eerste keer in my arms gesit is.

Ek is getoor, MM. Ek weet ons gaan die grootste maats wees. Jou Oumas en Oupas sal dit maar moet aanvaar, jou Mamma en Pappa ook.

Toe ek jou so in die oë kyk, toe weet ek jy is ook vir my gestuur. Jy weet dit ook. Jy het my getoor.