20170406_103826.jpg

My oudste en enigste is ‘n pragtige vrou. Sy is geliefd en het ‘n bestendige leef en laat leef uitkyk.  Sy het as hoërskoolleerder verkies om na die Engelse skool te gaan omdat sy daar met alle rasse en kulture in aanraking kon kom. Sy was nie oral gewild oor die besluit nie, maar ons het haar geleer staan en val by besluite. En sy het goed gematrikuleer.

Haar vriendekring is wyd. Lieflike jongmense is danksy haar ook deel van ons lewe.

Ons land se min werksgeleenthede, het baie van hulle in entrepreneurs laat ontpop. Hulle verbaas ons met ondernemingsgees en idees. Hulle is vir my die nuwe Afrikaanse Afrikane.  Dié jong geslag.

Sus, en ek glo ons almal, is egter op die oomblik baie omgekrap. Sy neem wat in ons land aangaan ter harte.

Gister, na die hoeveelste oproep vir Zuma om te waai, stuur sy op die Vuisboek ‘n boodskap vir haar kring. Weinig reageer.

“Mamma, ek is so teleurgesteld – hoe kan mens onbetrokke wees en geen opinie hê in hierdie tyd nie?”

Vanoggend wil ek vir haar en al haar meters raad gee.

Hê jy jou opinie my kind, leef dit uit. Gaan mars as jy wil. Onthou maar net ander voel nie dieselfde nie. Dis ook reg so.

Ek is bly die omstandighede van ons land pla jou.

Sophia Kapp het net onlangs die volgende oor taalgebruik te sê:”Sommige mense gaan dit oppas, ander gaan dit deur hulle dingesse trek. Vir sommige mense het dit groot sentimentele waarde, vir ander is dit iets wat jy kan weggooi as dit nie meer bruikbaar is nie. Wat jy ook al van jou taal dink en hoe jy daaroor voel, is joune om te vereffen. Maar jy moet altyd onthou dat jou sentimente rondom taal ook net joune is. Aanvaar dat mense nie met jou daaroor hoef saam te stem nie.”

Sy kap raak want hierdie kan beslis ook deurgetrek word na geloof, politieke oortuigings, die hele ou kaboedel van die ding wat ons lewe noem.

My liewe kinders, julle kan egter nie apaties staan teenoor wat in ons land aangaan nie. Julle kan nie deel wees van die 15 miljoen nie-stemmende stemgeregtigde Suid-Afrikaners nie! Kyk waar sit ons oor net die helfte van 30 miljoen gestem het!

Daar word met julle toekoms gemors – die huis waaroor jy droom, die neseier wat jy bêre, jou oudag se geld – dis volgens sekere foendies reeds 60% minder werd as wat jy projekteer.

Dankie aan Meneer Zuma en ons gemorsstatus.

Ek is dankbaar vir die onder julle met sterk geloofsoortuigings. God is die Skepper van alles. God is in ons gister, vandag en hy wag in die toekoms vir ons. Maar net soos vir Noag, Abraham, Isak, Moses, Josef, Dawid, Salomo vra God geloof, gehoorsaamheid en aksie van Sy kinders.  Kyk maar na ons Groot Voorbeeld, Jesus.

Ons mag hoop op iets beter, ons mag hoop omdat ons glo, maar daar moet doen by hoop gesit word ten einde verandering of verbetering te bewerkstellig. Hoe anders het Jerigo se mure geval? Hoe het Noag oorleef? Geloof, gehoorsaamheid en aksie.

Die Hebreeuse woord Shema beteken LUISTER én DOEN!

So liewe kinders – Hoop, glo en doen.  Glo ons is hier vir ‘n rede. Dis julle Suid-Afrika, dis julle Afrikaans.

Gelowige Afrikaanse Afrikane.

Dis wie ons is en waarvoor ons saam met ander Afrikane in Suid-Afrika moet opstaan en gereken word.

Kom ons bid vir ommekeer in ons land en spesifiek ons parlement op 18 April.

Kom ons gaan swaai plakkate

Kom ons mars saam.

Kom ons praat met mekaar en met ander wat nie soos ons dink nie.

Laaik, dislaaik, raas en skreeu.

Laat jou stem gehoor word.

Roer vir julle.

Shema.