Om ons kritiekbeseerde land dieper in longdrop gemors te gooi deur mense aan te moedig om komende Vrydag, 7 April 2017 hul besighede, te sluit is onbesonne.
Om van mediese personeel, nooddienswerkers, polisiemanne en verkeersbeamptes te verwag om nie te werk nie, is onbesonne.
Die wegbly/toemaak aksie is futiel. Daar is prosesse wat nou deur ons konstitisionele hof en binne die parlement moet gebeur.
Ek steun vreedsame optogte. Ek sal my personeel laat gaan deelneem, my man en kind kan ook gaan, of as ek wil gaan, sal een van ons agter bly om ons besigheid se deure oop te hou.
Want sien – Jacob Zuma en maats voel vere oor my inkomste of oor werksekuriteit vir my werkers. Ons moet self met goeie produkte, uitstaande kliëntediens en nasorg vry na verbruikers. Ons, nie ons regering nie. Maak nie saak dat ons moet smeek om BTW terugbetalings te ontvang nie. Maak nie saak dat ons tot bokant ons ooglede in betaal, betaal, betaal staan nie.
Winkels sluit gaan nie wat ons elke dag moet hanteer, verander nie. Dis gevaarlik om sommer so ons ekonomie wat reeds morsig is, tot stilstand te dwing.
En weet jy – ek voel dit aan my broek – die massas gaan langnaweek hou, pleks van ons land red. Rerig – dis hoe ons is…braai, dam toe, laat slaap – daai is wat meeste gewone mense graag doen.
Het jy al gaan kyk van ons 50 miljoen mense – wie stem en watter persentasie stem en het regtig ‘n sê in wie ons regeer? Dis angswekkend. Uit net meer as 31 miljoen stemgeregtigdes het, net meer as 15 miljoen mense hulle kruisies met die vorige verkiesing fisies gaan trek.
Waar was die ander 15 miljoen – besig om te braai? By die dam? Hulle was nie by die stembus nie – hoekom sal hulle Vrydag hulle deel kom doen?
So – by my winkel gaan sake soos normaal, maar die wat wil opmars – dié sal ek van die kantlyn af luid toejuig, swart dra en petisies onderteken en elke oggend vir ons land en al sy mense bid. Ek bid veral dat die konstitusionele prosesse reg hanteer word, dat die in die parlement leeuemoed het en ons nagmerrie uit die kussings lig. Ons ekonomie kan dit nie anders bekostig nie.
Beplanning vir Vrydag, 7 April 2017:Skeduleer die minimum personeel aan diens, sodat werk kan aangaan, en laat die res gaan skreeu namens ons almal. Die wyses sê mos ons het nie almal dieslefde om by te dra nie. Sprei dan maar die talent so dat alles aandag kan kry.
Hier is nou ook ‘n ander by in my kop.
Wat keer die gevaarlikes in ons samelewing om chaos te saai midde-in die protes optredes?
Wat as die polisie en weermag opdrag kry om te boelie – daai massas waarbinne onervare of maagdelike toi-toiers hulle gaan bevind…
Wat gemaak as daar ‘n vegtery ontstaan en Prez JZ en Guptastan ‘n staat van onrus verklaar en al ons pogings suid gaan? Hy is steeds aan bewind, en meeste mense is op sy genade in posisie waar hulle is.
Ons moet dink wat ons doen en hoekom en wat die gevolge is of kan wees.
Ek wonder en vra maar net. Politiek is nie my ding nie, maar my liefiemense se welsyn wel.
NS. As jy anders oor die saak voel – ek sal jou opinie respekteer.
Dis ‘n vry land.
Onthou net ek verwag dieselfde van jou.
Ek stem saam!!
LikeLiked by 1 person