1606923_10152345023602905_546526081_n

Vuisboek herinner my dat ek op 31 Maart 2014 hierdie beroemde skildery met my maats gedeel het. Scream van Edvard Munch

Ek lees die volgende daaroor raak: “Essentially this famous picture is autobiographical, an expressionistic construction based on Munch’s actual experience of a scream piercing through nature while on a walk, after his two companions, seen in the background, had left him. Fitting the fact that the sound must have been heard at a time when his mind was in an abnormal state, Munch renders it in a style which if pushed to extremes can destroy human integrity.”

Ons kon nie anders as om vanoggend so te staan en gil na wat in die middernagtelike ure met ons land gebeur het nie. Met ‘n hiëna-lag en minagting het ons prez Suid-Afrika weer op haar knieë.

April Gekke-dag het ons nie nodig nie. Ons president het die grootste poets op ons almal getrek. Welkom in die piesangrepubliek waar korrupsie en mag hoogty vier. Waar die armes arm gehou word en die belastingbetalende middelklas gyselaars van gierigheid is.

Iemand het lank terug, pas na die ANC ontban is, vir my vertel dat daar vir JZ opgepas moet word. Hy het as leier van  Umkhonto weSizwe (MK) die reputasie gehad dat hy jou in die oë kyk asof hy jou pel is, dan is die mes al lankal in jou rug.

Ons land bloei sedert JZ en Shabir se mannewales, na Nkandla, en na ons ge-Van Rooyen is al meer en meer.  Die nag van die langmesse is toe nie wat Siener van Rensburg voorspel het nie…

JZ se messtekery is veelvoudig, vlymskerp en vernietigend aanhoudend.

Daar is amper niks oor nie.

Wat gaan dit vat dat almal, ja, almal hande vat, oor politiek, ras, klas, kultuur en saam opruk na regeringsgebou en raas en skreeu: “Bedank, gaan weg, gaan bly in Guptaland!”

Pravin Gordhan en Jonas het flussies op die trappe van Tesourie Suid-Afrikaners aangesê om aktiviste en vegters vir ons land en demokrasie te word.  Dink net as dit in die parlement kan begin – as almal die mosie van wantroue steun…

Dink net, as ons almal Maandag oral in Suid-Afrika, na die naaste regeringsstruktuur opruk – al is die SARS kantoor of binnelandse sake, of die Premier se kantoor, of die Uniegeboue, die Parlement in Kaapstad. As almal Maandag oral gaan toi-toi – saam, as Suid-Afrikaners.

Ons land, konstitusie en demokrasie ter wille.

Wat ‘n wonderlike dag sal dit nie wees nie.

Maar dis net spookasemdrome – ons weet nie hoe om aktiviste te wees nie.

Ons weet nie van saamstaan nie.

En wie wag op die kantlyn om ons huidige nagmerrie te vervang?

Woordloos kom die gil. Dis tyd, net soos dié  jong man sing…