Ag julle kan maar weet. 

‘n Skielike bui reën tussen Graaff-Reinet  en Jansenville, more, sal my skuld wees.  

Dis al jare, dat die huistoe rit maar stil is, want voor die eerste draai in die pad buite Graaff-Reinet, afhangende of ons via Middleburg en Colesberg koersvat met die N1 Noord en self ry, óf met die huurkar terug reis Port Elizabeth toe om terug te Limpopo toe te vlieg, sien ek niks nie. Ek tjank. My siel skop teë, my hart breek. 

Ek los ‘n heel ander mens agter in die hoefyster van die Sondagsrivier, in my geliefde Graaff-Reinet. Ek hou van myself by ons Karoo adres.  Dié vrou is vrolik, ontspanne.  

Sy het nie die obsessiewe behoefte om met niks besig te bly nie. Sy lag en gesels, sy lees, sy dink. Sy skryf want dis lekker.Sy hou nie van terug gaan na die harde ons-moet-oorleef-wêreld daar ver Noord nie.

Maar ek is nie eerlik met myself nie. 

Daar ver in die Limpopo, is ek net so bevoorreg. Ek maak ‘n billike lewe met my gesin. Daar is geliefde vriende, wat my al jare ken en nog steeds vir my hakieshart omgee. 

My honde bly daar saam met ons in ‘n lieflike huis op dierbare vriende se plaas. Ons kan daar bly, want hulle is nou in hulle aftree huis in die stad. 


Skaam kry ek nou. Ek besef hoe bederf ek is met seëninge.  

Bestevriend ega, pragtige engelkinddogter en interessante werk.

Ek het lewende en verwesenlikbare drome.  
Soveel  om na uit te sien. 

Regte witbroodjie.

Ek gaan my bes doen om die Karoovrou  more op die vliegtuig te kry tot in Limpopo. Ek skuld my liefiemense dit.

Miskien kiesa dit more net so bietjie tussen Graaff-Reinet  en Jansenville.