Gister het ek vertel hoe ons eiendom in Graaff-Reinet gekoop het. Die adres het ‘n woonhuis en motorhuiswoonstel. Ons noem hulle Longreach en Outback. Dis ver van ons Limpopo adres waar ons brood en botter verdien, en dis die pragtige dorp in die Australiese Outback, se skuld dat ons hier ons harte verloor het.
Langs ons huis, wat ons na restourasie sedertdien verhuur,  staan die fraaiste Viktoriaanse kothuisie.  Vuilpienkstaandak met ‘n ronde solderluggat en hout broekielace. Storieboek en kinderlik mooi. 

Ek het altyd so die mooie huisie, met sy museumwapentjie trots by die voordeur, bewonder.

‘n Kleine vroutjie het  meer as sestig jaar daar gewoon. Die tannie is toe al die tyd my niggie se skoonsuster se ouma! Die kleindogter woon ook in Polokwane. Mense wat ons ken. Die wêrled is klein.

Ons buurvrou in die Karoo is so klompie jare gelede oorlede. Die huisie is te koop, hoor ons.Op die ingewing van die oomblik besluit Rots ons gaan ‘n bod op die plek in sit.  

Ons eerste bod is onsuksesvol en ons berus daarby.  Maande later is die huis steeds nie verkoop nie. Rots bie weer. Baie minder as die eerste keer. Weer troef iemand ons. Ons besluit dis nou maar so. 

Ons omskep die woonstel, Outback, in ‘n vakansieplekkie vir ons en liefiemense.Die tannie se kleinkind se man laat weet ons nog ‘n paar maande later, dat die huisie nog steeds nie verkoop is nie. Rots besluit om ‘n lawwe  aanbod in te sit. Wragtie,ons kry toe vir Great Expectations met ons laaste bod.

Toevalligheid.  Nooit. Ons storie hier in die Camdeboo word vir ons geskryf en ons stap dit met groot geloof uit.

 Die proses om op een plek ‘n bestaan te maak, en duisend kilometer ver aan ‘n droom te werk is nie altyd lekker nie. Ons bou soos ons kan, en tyd stap aan.

 Ons is nou by teëls uitsoek, besluite te neem oor optooigoed en tuinbeplanning. ‘Eendag trek ons in’ word nou tasbaar. 

 Die wind ruis deur die peperboom, mense stap met hulle honde om die park neffens ons, kinders ry wipplank en ek sit op Outback se stoep en skrywe en droom. Want ek mag en Great Expectations wag.