In Longreach, Australië se hoofstraat met ‘n mooi middelman, omsoom deur leivore en parallel parkering, beleef my Rots en ek, ‘n oomblik van waarheid. ‘n Hier-sal-ek-kan-wortelskiet-gevoel oorwelding ons. 

“As ons ooit in Suid-Afrika ‘n kwart hiervan beleef, koop ons dáár ons huis,” sê my man.

Een jaar later onderweg na Kaapstad, draai ons by Colesberg links van die dooilike N1 af. Die ent van Colesberg,  Beaufort Wes en Laingsburg moor my siel en Rots is gelukkig baie lief vir afdraaipaaie.

Ons kom teen middagete Graaff-Reinet  binne. Die gastehuis is te oulik, houtvloere,  koel binne kamers, en ‘n lekker stoep met ‘n braaihoekie.  Ons is skaars uitgepak toe die stapel pamflette ons oog vang. 

Genade, mens sal besig bly in die geskiedkundige dorp. Ons lees van 200 museumstatusgeboue,  fossiele, kunsskatte,  die Vallei van Verlatenheid en, en, en. Ons kyk vir mekaar.

Is dit ‘n Longreach-moment?

Sonsaktyd, met yskoue bier in die koelsak, ry ons dorp uit en berg op om die Vallei van Verlatenheid te gaan beleef. Rots, hoogtevreserig, hou styf aan die stuurwiel vas en kyk net reg voor hom in die pad.

Op en op reis ons, en skielik lê Graaff-Reinet, ingehoefyster deur die Sondagsrivier. My hart klim by my keel uit, my siel kry vlerke. ‘n Arend sweef saam.  

Ek stap alleen  die steilte uit om ‘n ewigheid ver te kyk. Rots hou ‘n skilpad  by die parkering geselskap. Die wind waai my kuif deurmekaar. Die arend sweef voor my verby. 

Ek voel hoe my Skepper  sê:”Welkom, my kind.”  Hy vryf met die wind my hare deurmekaar.

Van daardie oomblik, is ons Graaff-Reinet  getoor. Om ‘n uitroepteken by die ervaring te sit, kry ons ‘n jong koedoe-ooi langs die pad.  “Hoekom het julle so lank gevat om te kom,” vra sy sonder vrees.  Ek hoor haar asemhaal,. Ek neem ‘n foto van haar met die mik-en-druk, voordat sy  wei-wei wegstap. 

Ons ry terug dorp toe. Ons weet hier kom ‘n ding. Ons gaan huis koop. Longreach, wat is jou Graaff-Reinet  adres?