Saterdagaand.

Die kiewiete raas hulle kleintjies nes toe.

Die kransswaeltjies kweel op die stoep hulle nuwelinge tot rus.

Manlief kyk rugby – Skotte teen Engeland.

Die swembad pomp loop sy laaste halfuur.

Dan kom die stilte.

Die naguiltjies begin roep, terwyl die volmaan sy pad oor die naghemel begin loop: “Dear God, deliver us. Liewe Here, behoed ons.”

Daar word vertel dat die Engelse in die Boere-oorloë die gebed saans opgesê het saam met die naguiltjies, want bedags is op hulle teiken geskiet.Dis toe hulle nog rooi-uniforms met wit helms gedra het.(Toe hulle die tweede keer kom was hulle in kakie-uniform.)

Hierdie seisoen hoor ek die uiltjies veels te veel. Hulle is oral om ons huis. In die kamp waar die mooie Njalas loop, in die veld, agter die stoor. ‘n Koor, heelnag.

Hulle is simpel weerlose goed. Lief vir die middel van die stofpad waar vanmiddag se son nog in die warm stoffies broei. Dan gaan sit hulle daar, in die middel van die plaaspad. As jy vanaand laat huistoe kom, vlieg ene dikwels te laat op, en dan is dit kismet.

Ons is ook so dom. Sit elkeen alleen op ons hopies warm sand, ons eilandjies. Alleen.

Hulle roep wat ons harte nie meer wil vra nie.

Ons land brand. Vlamme van haat en misgunning.

In die nuus vandag:

Daar is ‘n maand-oue baba weg na wat soos ‘n kaping lyk.

‘n Nuut gebore baba met die naelstring en plasenta nog  om haar gevind, weggegooi.

‘n Vrou is wreed aangerand met ‘n elektriese boor, nog een in haar huis oorval.

‘n Man is ten aanskoue van sy elf-jarige dogtertjie in ‘n padwoede insident met ‘n mes doodgesteek.

‘n Kleurlingboer kan nie sy huurgrond koop nie.(Die Landbouweekblad sê hy is swart…)

Die regering leef in ontkenning.  Die gevolge van korrupte verryking uit mense wat staatstoelae ontvang, rys op die horison. 1 April gaan veel meer as Gekkedag wees as miljoene mense nie hul geld ontvang nie.

Ons sit in die stof op ‘n tydbom. Elkeen alleen.

“Dear God, deliver us. Liewe Here, behoed ons,” sing die naguiltjies.