Ek is weer effe afferig, lusteloos. Rots sien my gemoed en ek mag kluisenaar. Dis stil by die winkel en daar is gelukkig twee pragtige vroue wat elke dag die plek help oophou.
Ek sit vir ure vir die rekenaarskerm en kyk, en kyk en kyk. Luister na die voëltjies se gekwetter, hoor die honde wat blaf. Ek loop deur die huis, uit stoep toe, gaan maak koffie. Bloubekruip loop so sleep,sleep agterna.Ons albei doelbewus aandagafleibaar.
Ek lees bietjie, lê bietjie, gaan sit weer voor die rekenaar. Dis tyd wat verbygaan en nie terugkom nie, besef ek.
Eers troos David Whyte my: “Beginning is difficult, and our procrastination is a fine, ever-present measure of our reluctance in taking that first close-in, courageous step to reclaiming our happiness. Perhaps, because taking a new step always leads to a kind of radical internal simplification, where, suddenly, very large parts of us, parts of us we have kept gainfully employed for years, parts of us still rehearsing the old complicated story, are suddenly out of a job.” *
Vanoggend jaag Elisa my uit die bed.
“Dis net na sewe,” brom ek.
“Assamblief,” sy kreukel haar neus en glimlag. “Ek wil die bed skoon oortrek.”
Ek brom dat ek nog nie eers koffie gedrink het nie, nog nie eers boekegevat het nie…gryp my koffiebeker en Bybel en strompel studeerkamer toe.
Die dagstuk gaan oor God se finale adres. Dat Hy Alfa en Omega is, Skepper en Voleinder. Dat Hy, God self, weer gaan kom en alles nuut en ewig gaan maak. Dit is nou vir dié wat aanhou oorwin (Op21:7).
Aanhou oorwin.
Aanhou oorwin.
My hart klop tjoklits. Ek word elke dag vergewe vir swakheid, vermorsing. Ek moet net aanhou probeer.
Ag Here, dankie!
Nog is het einde niet.
Ek slurp aan my koffie en blaai deur die Facebook. ‘n Skryfblad wat ek besoek vir bemoediging en inspirasie sê: Vat die boek naaste aan jou, gaan na bladsy 55. Die tweede sin is jou skryfmotivering vir vandag.
Die naaste boek aan my is die Bybel wat ek flussies gelees het.
Ek blaai na Bl 55.
Eksodus 4:2: “Toe vra die Here vir hom:”Wat het jy daar in jou hand?”
Die gedeelte gaan oor Moses wat teëgestribbel het oor die taak wat God hom opgelê het. In sy hand was ‘n herderstok. God laat Moses die stok op die grond gooi, dit word ‘n slang. Dit word ‘n kragtige wapen wat die Farao oortuig om die Istrealiete te laat gaan. Die einste stok kloof die Rooisee oop. Die Here rus Moses toe en geen protes keer dat hy sy taak opneem nie. Groot staan Moses met sy herderstok in ons Bybelgeskiedenis as voorbeeld. Hy besoek selfs vir Jesus saam met Elia.
Ons is nie geloofshelde nie. Net gewone mense, wat elke dag die beste wat ons kan, poog. Wel, ek is. Een dag op-en-wakker, die ander slepend. Maar die son kom op, die son gaan onder, en daar is weer ‘n nuwe dag.
Die wat aanhou oorwin.
Ek het ‘n potlood in my hand en ‘n rekenaarsleutelbord voor my.
Here, lei my waar U wil.
*(‘BEGINNING’ From CONSOLATIONS:The Solace, Nourishment and Underlying Meaning of Everyday Words © 2015 David Whyte and Many Rivers Press.Besoek http://www.davidwhyte.com of kyk op sy Facebookblad. Die man skryf raak.)
So slurp ek ook maar dag in en uit. Hierdie was baie mooi ER. Ek huil sommer.
LikeLike